Die karobboom is ’n meerjarige, peuldraende boom wat van die Mediterreense lande in Europa en Suidwes-Asië afkomstig is.

Estimated reading time: 6 minutes

Die toename in kweekhuisgasse soos koolsuur- en metaangas in die atmosfeer haal gereeld die nuus. Vir dié rede is melk- en ander beesboerderye onder toenemende druk van omgewingsaktiviste. Wat hierdie aktiviste graag ignoreer, is dat alle herkouers (nie net melkkoeie en vleisbeeste nie) al vir alle eeue kweekhuisgasse geproduseer het.

Aktiviste het maar onlangs die metaangas wat koeie produseer begin gebruik om die aandag af te lei van die bydrae wat kragopwekking en die vervoerbedyf tot lugbesoedeling maak. Herkouers produseer kweekhuisgasse bloot deur te lewe. Herkouervertering het oor millennia ontwikkel en daarmee het hulle die indirekte vermoë om hoë-gehalte voedsel vir menslike gebruik te lewer. Min kan gedoen word om dié proses te verbeter.

Eintlik benut herkouers ruvoere wat andersins verlore sou gaan en uiteindelik ook metaangas sou produseer tydens die verrotting daarvan. Die aanplant van bome word beskou as ’n manier om die kweekhuisgasse te benut en lugkwaliteit te verbeter.

Bome vir voerproduksie

Navrae word dikwels van produsente in veral droogtegebiede ontvang oor die potensiaal van bome wat vir voerproduksie aangeplant kan word. Onlangs is op die Facebook-blad Boere gesels hierna uitgevra.

Verskeie boomtipes is genoem, byvoorbeeld soetpeul (Gleditsia triacanthos of honey locust in Engels), afkomstig uit Noord-Amerika, en moringa (Moringa oleifera), ook die sprokiesboom genoem, van Indië. Die bekendste voerboom in Suid-Afrika is die sogenaamde suidwesdoring, of Prosopis-spesies, wat in die vroeë 1900’s ingevoer en as droogtevoer vir skape gebruik is.

karobboom
Vir diere word peule gedroog en met of sonder sade gemaal en as ’n ingewandsbioreguleerder gebruik om diarree by jong kalwers te voorkom.

Prosopis-bome is nou baie ongewild weens die grootskaalse bosindringing daarvan langs sandlope en droë riviere in die Karoo, westelike dele van die Noord-Kaap en suidelike dele van Namibië. Pogings word nou aangewend om dié bosindringing te verminder.

Johannesbrood- of karobboom

’n Minder bekende boomsoort is die Johannesbrood- of karobboom (Ceratonia siliqua) wat in Suid-Afrika hoofsaaklik as ’n sierboom in huistuine, op sypaadjies en in parkeerareas geplant word. Dit word die Johannesbroodboom genoem omdat Johannes Die Doper volgens oorlewering die peule daarvan geëet het.

Die karobboom is ’n meerjarige, peuldraende boom wat van die Mediterreense lande in Europa en Suidwes-Asië afkomstig is. Dit word in sommige van hierdie lande vir meer as 4 000 jaar al verbou. Dit aard goed in die meeste omgewings- en klimaatstoestande.

Dit is ’n bladhoudende boom wat tussen 10 en 15m hoog kan word. Hul produktiewe leeftyd is dikwels meer as 100 jaar. Bome is eenslagtig en vir kommersiële produksie moet jong bome met ’n vroulike tak geënt word om te verseker dat ’n boord genoeg produserende bome bevat.

In lande soos Spanje, Italië en Israel word die peule as ’n voerbron vir diere gebruik. Kommersiële produkte vir menslike gebruik word van die sade, peule of pulp vervaardig.

Bome begin ná sowat vyf tot ses jaar ’n kommersiële produksie lewer. Vir diere word peule gedroog en met of sonder sade gemaal. Karobpeule het ’n aangename smaak, hoë energiewaarde en bepaalde gesondheidseienskappe. Dit word as ’n ingewandsbioreguleerder gebruik om diarree by jong kalwers, waarvan die rumen nog nie ten volle ontwikkel is nie, te voorkom.

Karobpeule het ’n hoër suikerinhoud as byvoorbeeld suikerriet, wat dit baie smaaklik maak. Die sade van die peule is hoog in proteïen en energie. Die sade word ook as ’n bindmiddel in sekere troeteldierkossoorte gebruik.

Chemiese samestelling

Omdat min inligting in Suid-Afrika beskikbaar is oor die benuttingsmoontlikhede van hierdie boomsoort, is ’n studie onderneem waarin die chemiese samestelling van die peule bepaal is. Peule is daagliks versamel van bome wat vir skaduwee aangeplant is. Dit is verder in die son gedroog, waarna dit met ’n hamermeul gemaal is.

In Tabel 1 word die chemiese samestelling van die verskillende gedeeltes van die peule aangedui.

Tabel 1: Chemiese samestelling van verskillende gedeeltes van karobpeule.

Die ruproteïeninhoud van die peule is relatief laag, maar is in ooreenstemming met waardes uit die literatuur. Die ruveselinhoud is sowat 8 tot 9%, terwyl die gemaalde peule ’n hoë energiepeil het. Sowat 50% van karobpeule bestaan uit suiker in die vorm van sukrose.

Literatuurbronne dui aan dat karobpeule sowat 40 tot 60% oplosbare suiker, 3 tot 5% proteïen en 4 tot 13% tanniene bevat.

Groeirantsoene vir bulkalwers

Gemaalde karobpeule is teen 10% in ’n kalfaanvangsmeel en teen 14,5% in ’n groeimeel ingesluit en aan bulkalwers gevoer. Kontrole-mele het geen karobpeule bevat nie. Die gemaalde karobpeule het energiebronne soos koringsemels en mielies vervang.

Holstein- en Jerseybulkalwers is volgens geboortegewig in twee groepe – met of sonder gemaalde karobpeule – verdeel. Kalwers het volmelk teen 4ℓ/dag tot op ouderdom drie maande ontvang. Kalfaanvangsmele is van ouderdom vyf dae tot op twee maande aan die bulkalwers gevoer, waarna kalfgroeimele tot op vyf maande gevoer is. Die bulkalwers is binne 24 uur ná geboorte en weer op vyf-maande ouderdom geweeg, waarna hulle bemark is.

Die gemiddelde geboortegewig van die bulkalwers was 35 tot 36kg. Die eindgewig (op vyf-maande ouderdom) van bulkalwers op diëte met en sonder karobpeule, was onderskeidelik 174 en 165kg. Bulkalwers op die karobpeuldiëte het oor die proeftydperk meer meel gevreet as die kalwers sonder karobpeule – 427 teenoor 312kg, onderskeidelik. Dit kan waarskynlik aan die beter smaaklikheid van die karobpeulmeel toegeskryf word.

Dié studie het getoon dat gemaalde karobpeule as ’n plaasvervanger van graan in die diëte van melkrasbulkalwers gebruik kan word. Hoewel literatuurbronne aandui dat hoër insluitingspeile reeds gebruik is, word gewaarsku dat die verteerbaarheid van proteïen verlaag kan word weens die teenwoordigheid van tanniene in die karobpeule.

Aanplanting van die karobboom in Suid-Afrika

Die karobboom is uiters geskik vir aanplanting in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika. Die peule word in die droë seisoen ryp en kan vir lank op die grond lê. Die bome aard ook goed in die somerreënvalstreke, maar omdat dit gewoonlik in Februarie en Maart reën, moet die peule daagliks opgetel word.

Bome kan in boorde geplant word. Plant saailinge elke 10m in die ry en los 10m oop tussen rye. Die klein boompies moet aanvanklik weekliks goed natgemaak word, totdat die wortelstelsel goed gevestig is. Die bome het ’n penwortelstelsel, wat beteken dat grond vooraf diep losgemaak moet word vir goeie wortelindringing. Dit sal die groei van die bome bevoordeel en hoër peulproduksie verseker.

Groei is beter wanneer die saailinge met groeibuise beskut word. Dit sal die klein boompies teen veral vreetskade en koue beskerm. ’n Spesiale tegniek word gebruik om ’n vroulike tak op jong boompies te ent.  

Peule is aanvanklik groen en word later donkerbruin. Vanaf Februarie word dit ryp en val deurlopend af. Groot bome produseer elk tot 150kg peule per seisoen.

Peule word geredelik deur skape direk van die grond af gevreet, maar vir beeste moet dit verkieslik opgetel en gemaal word vir insluiting in hul diëte. – Dr Carel Muller, navorsingsgenoot, veekundige wetenskappe, Stellenbosch Universiteit.

Vir meer inligting hieroor asook die menslike gebruik van die karobboom en sy peule, stuur ’n epos aan dr Carel Muller by careljcmuller@gmail.com.