’n Paar van die vegbulletjies wat eersdaags in die mark beskikbaar gestel sal word.

‘n Opwindende nuwe projek waarin Veeplaas ’n leidende rol speel, is vinnig besig om tot volvoering te kom met die speen van die eerste nege Portugese vegbulkalwers in Suid-Afrika. Die kalwers is bestem om veediefstal in die land die nekslag toe te dien.

Vegbulle word in bulgevegte in Portugal, Spanje en die suide van Frankryk gebruik. Die bulle wat in Portugal geteel word, is veral gesog vir hulle absolute aggressie en kanniedood-gedrag in die arena. Dit is juis hierdie aggressie wat nou handig te pas gaan kom op veeplase wat erg gebuk gaan onder veediefstal. In kort, niemand sal dit waag om naby ’n trop beeste te kom waar so ’n vegbul teenwoordig is nie.

Die idee om vegbulle na Suid-Afrika in te voer, verduidelik Albert Loubser, veekundige en redakteur van Veeplaas, het by die artikelskrywer Izak Hofmeyr ontstaan to hy in 2015 etlike maande in Portugal spandeer het. Daar het hy ’n stiergeveg bygewoon en ook ’n vegbul-teelplaas besoek, en dadelik die moontlikhede van hierdie ras in Suid-Afrika raakgesien.

’n Vegbul in aksie in Portugal.

“Die eerste stap in die proses om ’n kernkudde van twaalf koeie en twee bulle na Suid-Afrika te bring, was om ’n studie te doen oor die impak, beide positief en negatief, wat die ras moontlik op die plaaslike veestapel kan hê.

“In hierdie proses het ons ook deeglik na ander opsies gekyk van spesies wat moontlik ’n soortgelyke afskrikfaktor mag wees. Ons slotsom was dat die enigste ras wat ’n moontlike rol kan speel, die swartwildebees is. Op enkele plekke in veral die Vrystaat word swartwildebeeste wel gebruik om skape te beskerm,” verduidelik Hofmeyr.

Die probleem met die swartwildebees, en die rede waarom hy nie vir die doel geskik is nie, is dat sy optrede, hoe aggressief ook al, uit vrees gebore is. Die swartwildebees is inherent bang vir die mens en sal nege uit tien keer eerder weghardloop as konfronteer. Die Portugese vegbul se gedrag, daarenteen, is suiwer uit aggressie gebore. As hy ’n mens, hond of jakkals gewaar, is sy enigste doel om daardie indringer dood te maak, en hy sal nie bes gee vir enige rede nie.

Een van die grootste struikelblokke wat eers verreken moes word, sê Loubser, is natuurlik die potensiële lewensverlies as ’n veedief sy rieme styfloop teen so ’n vegbul of -koei wanneer hy onwettig op ’n boer se plaas beeste probeer aanjaag.

“Ons het verskeie regskenners hieroor geraadpleeg. Hoewel daar aanvanklik nie eenstemmigheid was nie, veral omdat so ’n projek nog nooit in Suid-Afrika uitgevoer is nie, was die konsensus op die ou end tog dat die wet in hierdie geval die boer se standpunt sal ondersteun.

“Die kwessie van aanspreeklikheid het gedraai rondom die vraag of hierdie vegbulle as vee of wild geklassifiseer sal word. Die antwoord was onomwonde dat hulle as vee geklassifiseer moet word,” verduidelik Loubser. “Wanneer ’n veedief beseer word deur ’n bees wat hy besig is om te steel, sal die skuld vir hierdie besering tog nooit aan die voete van die eienaar van die bees gelê kan word nie. Op dieselfde basis sal beserings wat deur ’n vegbul toegedien word, terwyl daardie bul op ’n boer se plaas tussen ander beeste gewei het, nie die skuld van die boer kan wees nie.”

Eienskappe
Portugese vegbulle word op grond van baie spesifieke kriteria geselekter, en die Portugese stamboek is baie noukeurig en streng. Dié eienskappe is aggressie, horingvorm, atletiesheid, spoed en uithouvermoë.

’n Skildery in die bulteler se voorkamer, wat die waarde van ’n vegbul in ’n beestrop mooi uitbeeld.

Volgens die teler van die diere wat na Suid-Afrika ingevoer is, Don Francisco de Braganza, kan ’n mens ’n idee kry van die aggressie van die individuele bulkalwers wat vir die gevegsring bestem is deur hulle te perd met die garrocha te hanteer, maar die bul wys eers werklik sy ware kleure as hy in die gevegsring kom.

“Ons stuur jaarliks sowat 300 bulletjies gevegsring toe. As ons drie van hulle terugbring plaas toe om teelbulle te word, is dit baie. Gewoonlik word die bulle ná die geveg geslag. Die moeders van daardie geselekteerde teelbulle word ook gerespekteer, en dis interessant dat sekere koeifamilies bekend raak vir die hoeveelheid teelbulle wat hulle produseer. Sewe van die twaalf koeie wat na Suid-Afrika uitgevoer is, kom uit twee sulke koeifamilies. Die ander vyf koeie kom uit nuwe, belowende koeifamilies.”

Wat horingvorm betref, is die ideale horing een met ’n breë basis, wat dan wyd uitwelf en eindig met die punte van die horings in ’n opwaartse rigting. Dis die tipe horingvorm wat maklik die kol tref en uiters ernstige skade kan aanrig.

Spoed en uithouvermoë word gebaseer op die berede bulvegter, of toureiro in Portugees, se kommentaar na die geveg. Dis net hy wat kan sê hoe moeilik of maklik dit in die ring saam met die bul was.

Volgens dr Japie van der Westhuizen, hoof van SA Stamboek, is dit ’n opwindende nuwe uitdaging om by ’n beesras betrokke te wees wat nie ’n produksiedier is nie, maar ’n beskermingsdier.

“Die seleksiekriteria verskil uiteraard drasties van waaraan ons gewoond is, maar gelukkig kon ons gaan kers opsteek by sekere van die honderasse wat vir aanvalswerk gebruik word. Ons het reeds ’n stel kriteria opgestel op grond waarvan ons teelwaardes vir aggressie sal kan genereer. Dit sal nou van die eienaars van die diere afhang tot watter mate hierdie kundigheid gebruik word.”

Die laaste, en moontlik die ernstigste struikelblok wat oorkom moes word in die konseptualisering van hierdie projek, sê Loubser, is hoe om die aggressie van die diere teenoor die eienaar en sy werkers te ontlont.

“In Portugal word die kuddes streng te perd hanteer. Vir die een of ander rede ervaar die beeste nie perde as bedreigend nie en kan ’n mens betreklik na aan hulle kom. Sou hulle wel storm, sal dit beteken dat jy doodgewoon weghardloop, want ’n perd is darem gelukkig vinniger as ’n bees.

“Dit impliseer wel dat die ruiter sy storie moet ken. Dit impliseer op sy beurt dat boere moet seker maak hulle beeswagters het goeie, sterk en vinnige perde.”

Omdat nie alle beesplase in die land egter van berede beeswagters gebruik maak nie, het Veeplaas ’n spesiale tegniek ontwikkel wat ’n mens teen aanvalle sal beskerm tydens roetinewerkies soos lek uitsit.

“In die eerste plek is dit ’n bekende feit dat hierdie vegbulle nie mense aanval as hulle plat lê nie. Om egter dubbel seker te maak, het ons ’n hok, wat soortgelyk is aan die hokke waarin na haaie onder die water gekyk word, ontwikkel.

“Die hok het ’n laaiplek en wiele aan die agterkant waarop drie sakke lek gelaai kan word. Die werker loop aan die voorkant en lig die hok met handvatsels op. So loop hy dan tot by die soutbak om die sout uit te gooi. Sou die bul hom storm, gaan lê hy bloot op die grond tot die bul belangstelling verloor en wegbeweeg.”

Die eerste kalwers is nou pas gespeen en sal vanaf 1 April in die mark beskikbaar wees. – Persverklaring

Let wel: Die storie is as ‘n gekkedag-grap geplaas.