Presisieboerdery word toenemend noodsaaklik en daaruit vloei ook presisiebesproeiing. Dit verlang ʼn besproeiingstelsel wat met inagneming van al die hulpbronne en produksiedoelwitte ontwerp en installeer is om optimale produksie te verseker. Baie fokus word geplaas op meting en skedulering na die installering van ʼn besproeiingstelsel om te verseker dat daar korrek besproei word.

Wat is presisiebesproeiing dan?

Bogenoemde blyk noodsaaklik te wees wanneer ons na die definisie van presisiebesproeiing kyk: Presisiebesproeiing is om die regte hoeveelheid kos en water op die regte tyd en plek toe te dien.

Daar is egter ʼn tweede deel van die definisie waarvan ons nie moet vergeet nie, en wat ons aan ʼn baie belangrike deel van presisiebesproeiing herinner.

Presisiebesproeiing is om die regte hoeveelheid kos en water op die regte tyd en plek uniform versprei aan elke plant toe te dien inaggenome die kleinste differensieerbare besproeiingseenheid volgens die behoefte van die hulpbronne waarmee jy werk.

Natuurlik word klimaat, grond- en blaarwaterstatus en ander veranderlikes deurentyd gemeet sodat skedulering regstreeks by dié behoeftes aangepas kan word. Die deel van die definisie plaas egter ook klem daarop dat deeglike beplanning en voorbereiding noodsaaklik is vir suksesvolle presisiebesproeiing.

Vrae oor veranderlikes

“Wanneer ʼn boerderyprojek of byvoorbeeld ʼn nuwe boord of wingerd ontwikkel word, is daar ʼn magdom vrae wat beantwoord moet word en ʼn span kundiges wat hierby betrokke moet wees. Besproeiingsbeplanning is een deel hiervan en trek data uit al die analises wat gedoen is en besluite wat geneem is,” verduidelik Chris Malan, landboukundige bestuurder by Netafim Suid-Afrika.

Chris beklemtoon dat ʼn lys veranderlikes gemeet, oorweeg en geanaliseer moet word. “Dit vind plaas tussen die produsent, gewaskundige, grondkundige, weerkundige, bemestingskundige, besproeiingskundiges en enige ander kundiges wat noodsaaklik geag word.”

Die veranderlikes:

  • Klimaat.
  • Grondtipe (Fisiese en chemiese eienskappe).
  • Waterbeskikbaarheid en -samestelling.
  • Topografie.
  • Kragbeskikbaarheid.
  • Siektes en plae.

Hieruit word keuses gemaak rondom:

  • Gewas en/of kultivar.
  • Grondvoorbereidingsaksies.
  • Bemestingsbehoeftes.
  • Ryrigting, blokuitleg, paaie.
  • Plantspasiëring, rylengtes, blokgroottes ens.

Al wat dan oorbly is besluite rondom die besproeiingsmetode, -ontwerp en -skedulering. Met nuwerwetse sentraal beheerde ontwikkelings bepaal blokgroottes die basis van water en voedingsbestuur.

Produsente moet nie versuim om op kundiges staat te maak tydens die beplannings- en voorbereidingsproses nie.

“ ʼn Besproeiingstelsel wat goed beplan en ontwerp is, asook reg bestuur word, sal al die veranderlikes hierbo genoem kan akkommodeer om sodoende totale beheer van water- en voedingsvlakke moontlik te maak. ”

Volgens Chris is beplanning juis belangrik omdat daar nie ʼn een-grootte-pas-almal-resep vir besproeiingstelsels is nie. “In die besproeiingsbedryf bestaan daar nie ʼn regte of verkeerde stelsel nie. Gegewe die omstandighede van jou boerdery, en met al die versamelde kennis in gedagte, moet jy die voor- en nadele van elke stelsel oorweeg en op ʼn stelsel besluit.”

Die regte stelsel

Die uiteindelike besluit rondom watter tipe besproeiingstelsel ingespan gaan word, word beïnvloed deur jou ondervinding en kennis, asook die geprioritiseerde doelwitte wat behaal moet word.

Die produsent het, na daar reeds volgens die bogenoemde lys landboutegniese veranderlikes op moontlike stelsels besluit is, ʼn lang lys veranderlikes wat tydens die keuse van ʼn besproeiingstelsel oorweeg moet word.

  • Kapitaal- en lopende koste van die stelsel.
  • Die produsent se kennis en vertroudheid met die stelsel.
  • Die bestuurs- en onderhoudsgemak van die stelsel en die produsent en sy span se vermoë om dit by te hou.
  • Die betroubaarheid van die stelsel binne jou omstandighede.
  • Die kapasiteit wat die stelsel moet hê ten opsigte van voeding en skeduleringsbestuur.
  • Die oorkoms van wind, onkruid ens.
  • Installerings- en vestigingsvereistes – veral ten opsigte van arbeid en masjinerie.
  • Moontlikhede van diefstal.

Presisiebesproeiing kan suksesvol met beide drupbesproeiingstelsels en mikrospuitstelsels toegepas word en die eerste en grootste keuse gaan tussen die twee tipe stelsels moet wees.

Mikrospuitbesproeiingstelsels

Besproeiing met mikrospuite maak beide voloppervlakbesproeiing en gelokaliseerde besproeiing moontlik. ʼn Voordeel van mikrospuitstelsels teenoor drupstelsels is dat ʼn groter grondvolume benat word wat besproeiingsbestuur makliker maak. Verstopping is ook makliker sigbaar. Mikrospuite is 85% doeltreffend met die aanwending van water.

ʼn Paar nadele van mikrospuitbesproeiingselsels sluit in dat hoër verdampingsverliese plaasvind met toediening asook vanaf die grondoppervlak as by drupbesproeiing, dat jy nie in die boord kan werk terwyl besproeiing plaasvind nie en dat onderhoud hoër is as gevolg van skade aan spuite wat kan plaasvind as werkers in die boord beweeg.

Nog nadele is dat kunsmis vermors kan word as gevolg van minder doeltreffende aanwending en dat water ook teen die blare van die plant land en nie net by die wortelsone nie.

Drupbesproeiingstelsels

Die belangrikste voordeel van drupbesproeiing teenoor mikrospuitstelsels, is dat watergebruik meer doeltreffend is. Drupbesproeiingstelsels is 95% doeltreffend met die aanwending van water en dien water direk aan die wortelsone toe. Drupbesproeiing maak ook die aanwending van bemesting deur die besproeiingstelsel moontlik, wat baie hoër doeltreffendheid in bemesting teweeg bring.

Nog voordele sluit in die beperking van verdampingsverliese gedurende toediening en vanaf die grondoppervlak, meer doeltreffende bemesting, beter onkruidbeheer, dat jy met water met ʼn relatief hoë EC en hoë chloridiese inhoud kan besproei, en dat pulsbesproeiing doeltreffend toegepas kan word. Met geen bewegende dele het drupbesproeiingstelsels ook minder onderhoud nodig en word arbeid en koste so gespaar. Dit is verder moontlik om tydens besproeiing in die boord of land te werk.

Nadele van drupbesproeiing teenoor mikrospuitbesproeiing sluit in dat die emitter makliker kan verstop, verstoppings nie altyd sigbaar is nie en dat fyner, en dus duurder, filtrering nodig is. Nog ʼn uitdaging is dat so ʼn stelsel baie goeie bestuur vereis. Dit gebeur ook soms, in swakker gronde, dat die verspreiding van water nie na wense is nie.

Emittorkeuse

Wanneer die keuse tussen drupbesproeiing en mikrospuitbesproeiing gemaak is, volg ʼn lys ander keuses rondom die konfigurasie van die stelsel. By mikrospuitstelsels is die twee grootste besluite die kies van die spuitjie en die besproeiingskedulering.

Chris verduidelik dat ʼn bestuurbare grondvolume (40 tot 60%) benat moet word wat nie daagliks hervul hoef te word nie – meer gereelde aanvulling het te veel verdampingsverliese tot gevolg. Die infiltrasietempo van die grond moet nie oorskry word nie.

Mikrospuitkeuse gaan bepaal word deur gewasbehoefte, aanplantingsdigtheid, die besproeiingsdoelwit, grondtipe en grondvoorbereidingskeuses.

By drupbesproeiingstelsels is die belangrikste oorwegings gewaswaterbehoefte, verlangde benatte oppervlak, neerslagtempo, werksure, die tipe drupper en drupperlewering, die spasiëring van druppers en dan ook die besproeiingskedulering.

Die keuse van drupper gaan bepaal word deur topografie (is ʼn drukgekompenseerde drupper nodig?), die hoeveelheid groeiseisoene en die gehalte van water.

Om die regte keuse rondom drupperspasiëring te maak, moet die volgende beginsels verstaan word:

  • Water beweeg verskillend in verskillende grondtipes.
  • Elke grond het sy eie wydte-tot-diepteverhouding.
  • Hoe langer die besproeiingstyd, hoe dieper en wyer sal die water versprei.

Grondwaterverspreidingstoets

In hieropvolgende artikels op www.agriorbit.com sal Netafim Suid-Afrika ook gesels oor besproeiingskedulering, stelselonderhoud en ander relevante onderwerpe.

Een aspek van besproeiingskedulering is egter ook belangrik vir die beplannings- en voorbereidingsgesprek. Robbie Childs, landboukundige vir Netafim Suid-Afrika in KwaZulu-Natal, herinner dat dit noodsaaklik is om te weet wanneer om te besproei, hoeveel water om neer te sit en wanneer om nie te besproei nie.

“As ons nie hierdie belangrike kennis het nie, is die gevaar dat ons oorbesproei, water en kunsmis mors en die plant onder druk plaas; of dat ons onderbesproei en sodoende die produksiepotensiaal van die plant belemmer. ”

Gereedskap en proses

Om die bogenoemde kennis in te samel, moet ʼn proses gevolg word waarin verskeie belangrike metings, toetse en berekeninge gedoen word. “Die uiteindelike doel is om ʼn skeduleringsplan te ontwikkel wat gebruikersvriendelik is, volhoubare produksie verseker en eenvormige resultate lewer.”

Een van die baie belangrike toetse wat vooraf gedoen moet word, is die eenvoudige grondwaterverspreidingstoets wat die breedte-tot-diepte-benattingsverhouding van die grond bepaal. “Ons weet deur ander data hoe diep ons moet besproei, deur die toets weet ons ook nou hoe wyd die water sal versprei. As ons dié kennis het, en ons weet wat die grond se waterhouvermoë is, weet ons wat die grootte van die grondreservoir is.

Vir die eenvoudige grondwaterverspreidingstoets word ʼn vyf- tot tien-liter emmer op ʼn platform 40cm van die grond af geplaas. Konnekteer ʼn drupper met ʼn soortgelyke vloeitempo as wat in die stelsel gebruik gaan word aan ʼn dun pyp. Konnekteer dié pyp se ander punt onderaan die emmer en laat dit na die grond lei. Laat die emmer leegloop, waarna jy ʼn profielgat kan oopmaak en die waterverspreiding kan ondersoek.

Keuses in oorvloed

Chris herinner dat produsente nie moet versuim om op kundiges staat te maak tydens die beplannings- en voorbereidingsproses nie. Buiten dit wat in die artikel bespreek is, is daar natuurlik ook belangrike besluite wat gemaak moet word rondom filtrering, bemestingsbesproeiingstoerusting en meer. Netafim sal in hieropvolgende artikels ook hieroor gesels.

Vir meer inligting, besoek www.netafim.co.za of stuur ʼn e-pos aan infoza@netafim.com