Die oppervlakte- en vierde produksieskatting vir 2020 se somergewasse is pas deur die Nasionale Oesskattingskomitee vrygestel.

Lees dit in Engels.

Kommersiële mielies

Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 15,589 miljoen ton gestel, wat 2,42% of 367 890 ton meer is as die vorige skatting van 15,222 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,611 miljoen hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 5,97t/ha is.

Die geskatte mielie-oes is 38% groter as die 2019-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, naamlik die Vrystaat, Mpumalanga en Noord-Wes, gaan na verwagting 84% van die 2020-oes produseer.

Witmielies

Die oppervlak onder witmielies is 1,616 miljoen hektaar en vir geelmielies is die oppervlak 994 500 hektaar.

Die produksieskatting van witmielies is 9,075 miljoen ton, 3,36% of 295 390 ton meer as die 8,779 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 5,61t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 6,514 miljoen ton, wat 1,13% of 72 500 ton meer is as die 6,442 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 6,55t/ha.

Sonneblomsaad

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is verhoog met 4,75% of 34 750 ton na 765 960 ton.  Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 500 300 hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 1,53t/ha is.

Ander gewasse

Die produksieskatting van sojabone is onveranderd gelaat op 1,291 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 705 000 hektaar en die verwagte opbrengs is 1,83t/ha.

Die verwagte grondbone-oes is ook onveranderd gelaat op 62 470 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 37 500 hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 1,67t/ha is.

Die produksieskatting van sorghum is 135 685 ton, wat 2,30% of 3 200 ton minder is as die 138 885 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 42 500 hektaar, en die verwagte opbrengs is 3,19t/ha.

In die geval van droëbone is die produksieskatting 71 050 ton wat 0,46% of 330 ton minder is as die vorige skatting. Die oppervlakte beplant met droëbone is 50 150 hektaar, en die verwagte opbrengs is 1,42t/ha.

Neem asseblief kennis dat die vyfde produksieskatting vir somergewasse vir 2020, op 25 Junie 2020 vrygestel sal word. – Nasionale Oesskattingskomitee

Klik hier om die vorige maand se produksieskatting vir 2020 se somergewasse te besigtig.