Die oppervlakte- en derde produksieskatting vir 2020 se somergewasse is pas deur die Nasionale Oesskattingskomitee vrygestel.

Kommersiële mielies

Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 15,222 miljoen ton gestel, wat 2,78% of 412 170 ton meer is as die vorige skatting van 14,809 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,611 miljoen hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 5,83 ton/ha is.

Read it in English

Die geskatte mielie-oes is 35% groter as die 2019-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, naamlik die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 84% van die 2020-oes produseer.

Die oppervlak onder witmielies is 1,616 miljoen hektaar en vir geelmielies is die oppervlak 994 500 hektaar. Die produksieskatting van witmielies is 8,779 miljoen ton, 3% of 256 005 ton meer as die 8,523 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 5,43 ton/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 6,442 miljoen ton, wat 2,48% of 156 165 ton meer is as die 6,286 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 6,48 ton/ha.

Die opbrengs-bepaling per hektaar vir Mpumalanga is gebaseer op wetenskaplike en objektiewe resultate verstrek deur die Landbounavorsingsraad (LNR). Die objektiewe resultate vir die Vrystaat en Noordwes sal in Mei 2020 gerapporteer word.

Sonneblomsaad

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 731 210 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 500 300 hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 1,46 ton/ha is.

Ander gewasse

Die produksieskatting van sojabone is verhoog met 1,7% of 21 600 ton, na 1,291 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 705 000 hektaar en die verwagte opbrengs is 1,83 ton/ha.

Die verwagte grondbone-oes is op 62 470 ton gestel, wat 11,43% of 6 410 ton meer is as die vorige skatting van 56 060 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 37 500 hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 1,67 ton/ha is.

Die produksieskatting van sorghum is 138 885 ton, wat 4,57% of 6 075 ton meer is as die 132 810 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 42 500 hektaar en die verwagte opbrengs is 3,27 ton/ha.

In die geval van droëbone is die produksieskatting 71 380 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 50 150 hektaar en die verwagte opbrengs is 1,42 ton/ha.

Die vierde produksieskatting vir somergewasse vir 2020 sal op 27 Mei 2020 vrygestel word. – Persverklaring, Nasionale Oesskattingskomitee