Die oppervlakte- en tweede produksieskatting vir wintergewasse vir 2019, is pas deur die Nasionale Oesskattingskomitee vrygestel.

Koring

Die verwagte produksie vir koring is 1,806 miljoen ton, wat 5,72% of 109 480 ton minder is as die vorige skatting van 1,916 miljoen ton. Die verwagte opbrengs van koring is 3,34 t/ha.

Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 780 000 ton (43%), in die Vrystaat 435 200 ton (24%) en in die Noord-Kaap 281 250 ton (16%).

Die oppervlakteskatting vir koring is hersien na 540 000ha, wat 3 000ha hoër is as die 537 000ha van die vorige skatting. Die beraamde oppervlakte geplant in die Wes-Kaap is 325 000ha of 60%, die Vrystaat is 128 000ha of 24% en in die Noord-Kaap is dit 37 500ha of 7%.

Ander gewasse

Die produksieskatting vir moutgars is 389 260 ton, wat 3,04% of 12 200 ton minder is as die vorige skatting van 401 460 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 131 960ha, terwyl die verwagte opbrengs 2,95 t/ha beloop.

Die verwagte kanola-oes is 88 800 ton, wat 14,29% of 14 800 ton minder is as die vorige skatting van 103 600 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 74 000 hektaar, met ʼn verwagte opbrengs van 1,20 t/ha.

Die hersiene oppervlakteskatting vir hawer (ontbytgraan) vir die 2019-seisoen is 27 200ha en die verwagte oes is 36 460 ton. Die verwagte opbrengs is 1,34 t/ha.

Die derde produksieskatting vir wintergewasse vir 2019 sal op 24 Oktober vrygestel word. – CEC-verslag 

Klik hier om die vorige verslag te lees.