Agri SA het kennis geneem van Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, se kommentaar dat die regering geen bedoeling het om produktiewe landbougrond te onteien nie. Mlengana het dit op ’n beraad oor plaasmoorde, -aanvalle en veediefstal gesê.

Read it in English. 

“ ’n Aanval op die landbougemeenskap is ’n aanval op voedselsekerheid en op die doelstellings van die regering om die ekonomie te ontwikkel,” sê Mlengana. “Die landbousektor maak ’n bydrae tot die ontwikkeling van die land.”

Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid, het sy waardering vir hierdie erkenning uitgespreek.

Landbou moet beskerm word

“Dit is vanselfsprekend dat die landbougemeenskap effektief beskerm moet word omdat nagenoeg 34 000 boere en hul plaaswerkers daagliks die kos aan sowat 55 miljoen mense voorsien.”

Boeta du Toit, ondervoorsitter van die sentrum sê daar kan nie ’n beraad gehou word sonder om daadwerklike aksies in te stel nie.

“Daar is ’n gebrek aan doeltreffendheid wat toepassing van beleid, die beskerming van boerderygemeenskappe en die ontwikkeling van die landbou kniehalter. Verskeie departemente en ander staatsinstellings slaag nie daarin om hul beleidsverantwoordelikheid na te kom nie, en dit moet dringend reggestel word.”

“Die regering kan nie in sy doelstellings slaag om die land te ontwikkel sonder beleggings deur die private sektor nie. Die landbousektor se bydrae is daarom belangrik om ekonomiese groei te stimuleer,” sê Mlengana.

Breytenbach sê: “Daar moet erkenning gegee word aan die landbougemeenskap se bydrae om veiliger gemeenskappe te skep, hul betrokkenheid by plaaslike georganiseerde landbou en hul samewerking met die polisie om landelike veiligheid te bevorder.”

Agri SA sal voortgaan om met die regering te skakel oor die belangrikheid van landelike veiligheid. – Persverklaring