Prof Johan Willemse hou landboumarkvooruitsigte-werkswinkel

1276
Johan van den Berg van Santam, links, en prof Johan Willemse.

“Boere moet op bestuurbare faktore in hul boerdery fokus.” Dit was prof Johan Willemse se boodskap aan boere op sy landboumarkvooruitsigte-werkswinkel op 24 Augustus. Hy sê boere moet minder op die drama, detail en probleme van Suid-Afrika fokus en eerder op die visie, doelwitte en aksieplanne van hul eie boerdery. Dit is nou juis die tyd vir boere om meer innoverend te wees, en die geleenthede in die bedreigings raak te sien.

Verswakte wisselkoers verwag

Daar word voorspel dat die groeikoers vir volgende jaar ongeveer 0,8% sal wees. Die lae groeikoers kan toegeskryf word aan faktore soos die stygende werkloosheidsyfers, staatskuld en ʼn toekomstige styging in rentekoerse wat verwag word. Weens die bogenoemde faktore word verwag dat die wisselkoers gaan verswak en dat die rand teen sowat R15 teenoor die Amerikaanse dollar gaan verhandel aan die einde van 2018. Boere word dus aangeraai om nou kunsmis te koop.

Wat maak die weer

Die voorspelde EL-Niño in volgende jaar behoort nie boere so erg te tref soos die een van die 2015/2016 nie en boere behoort ʼn gemiddeld tot ondergemiddelde oes te hê, sê Santam se weerkundige, Johan van den Berg. “Ons kan minder reën verwag, maar die grondvog is vanjaar baie hoër is as in vorige jare. Dit behoort normaal te reën aan die begin van die seisoen terwyl dit later in die reënseisoen droër gaan wees as normaal.”

Graanpryse

Prof Willemse sê daar word verwag dat graanpryse soos dié van wit- en geelmielies sal styg, maar slegs tot by uitvoerpariteit. Die daling in mieliepryse in Augustus en September 2018 kan toegeskryf word aan boere wat nog mielies lewer. Die koringprys kan egter tot bo uitvoerpariteit styg, omdat die Europese lande ʼn swakker oes verwag. Die daling in die sojaboonprys kan nog vir ʼn tydperk voortduur en kan heelwat verander afhangende van die handelsooreenkoms tussen China en Amerika.

Veemark

Die groot- en kleinveebedryf kan nog vir ʼn tydjie goeie pryse in hul bedrywe ervaar omdat minder beeste en skape in Junie en Julie vanjaar geslag is as in vorige jare. Die hoofrede hiervoor is moontlik dat boere nog kuddes bou en minder diere verkoop. Verbruikers word egter onder druk geplaas as gevolg van die hoë pryse en vleispryse kan moontlik daal. Varkvleis raak al hoe meer mededingend teenoor skaap- en beesvleis omdat dit ’n goedkoper opsie is.

Pluimvee

Hoendervleis se prys gaan na verwagting nie vinnig verander nie as gevolg van die invoer van hoendervleis wat gestabiliseer het, hoewel dit goeie nuus is vir hoenderboere. Uit die gehoor is opgemerk dat eierinvoer uit Suid-Amerika wat toegelaat is om Suid-Afrika hoendergetalle aan te vul met die voëlgriep-uitbreking, nou ook gebruik word om Suid-Amerikaanse tafeleiers in te voer.

Die invoer van tafeleiers veroorsaak dat verbruikers moontlik minder vir eiers gaan betaal en dat die Suid-Afrikaanse boere weer aan die kortste ent gaan trek. Om die situasie te vererger, is stygende voerpryse ’n sterk moontlikheid weens die hoër graanpryse wat verwag word.

Algemeen

Hoewel dit in sommige bedrywe nie so goed gaan nie, is die algemene gevoel dat boere beter af is die jaar teenoor laas jaar. As jy as boer nou geld beskikbaar het, is dit ʼn goeie tyd om in jou boerdery te belê, sê prof Willemse. “Grondgryping gaan nie ʼn werklikheid word nie. Die ‘tweets’ van Donald Trump het die ANC laat skrik. Boere moet voorberei vir die volgende seisoen.” – Mario van den Heever, AgriOrbit