Die afgelope plantseisoen het vir groot opwinding gesorg weens die goeie reën wat sommige dele van die land ontvang het. Dít, en onlangse verwikkelinge in die wêreldekonomie, het boere van oral oor byeen gebring om te luister na wat professor Johan Willemse, landbou-ekonoom, te sê het by sy kwartaallikse landboumark-werkswinkel in Bloemfontein. Markvooruitsigte vir die nuwe seisoen was op die agenda, en aspekte soos pryse en oesvooruitsigte, asook die effek van bek-en-klouseer op die veebedryf, is bespreek.

Rand-dollar-wisselkoers bly daal

Volgens prof Willemse bly Suid-Afrikaanse verbruikers onder druk weens prysverhogings en ʼn onstabiele politieke omgewing. Met die internasionale ekonomie wat stadiger groei en ʼn moontlike verdere afgradering van Moody’s in die pyplyn, blyk dit dat die wisselkoers teenoor die dollar nie binnekort gaan versterk nie.

Prof Willemse glo dat boere later die jaar R16 teenoor die dollar kan verwag, wat ʼn groot impak op die landbou sal hê. Kleinskaalse- en bestaansboere sal aan die kortste ent trek en die meeste sal deur invoere benadeel word.

Laer pryse vir mielies

Mielieproduserende gebiede het goeie reën ontvang wat na verwagting ʼn gemiddelde oes vir die jaar sal meebring. Dit sal veroorsaak dat mieliepryse teen ongeveer R2 500/ton op SAFEX kan verhandel. Hierdie pryse skep gunstige toestande vir die veebedryf en daar mag ʼn moontlike tekort aan geelmielies realiseer. Boere word egter aangeraai om vroeër mielies te lewer, wat sal sorg dat hulle teen ʼn hoër prys kan verkoop.

Koring se afwaartse neiging duur voort

Na laas jaar se swak koringoes, word ʼn afname in die hoeveelheid koring wat op droëland aangeplant word voorspel. Die vooruitsig is dat die koringprys sywaarts sal beweeg en dat ʼn ton koring teen ongeveer R4 400 sal verhandel.

Otimisme oor veebedryf

Met laer mieliepryse en die huidige gunstige pryse in die veebedryf, blyk dit ʼn goeie jaar vir kommersiële veeboere te wees. Daar word verwag dat speenkalfpryse konstant sal bly teen R32/kg en dat A-graad-karkasse teen R45/kg sal verhandel. Lam- en skaapkarkaspryse sal egter na verwagting nie binnekort verander nie. Dít na aanleiding van die huidige ekonomiese druk op verbruikers en die gevolglike voorkeur vir goedkoper proteïenbronne soos hoender- en varkvleis.

Bek-en-klouseer, wat reeds groot opskudding in die veebedryf veroorsaak het, blyk om nie ‘n beduidende invloed op voerkrale se uitvoere te hê nie. Dit gaan egter waarskynlik nog ʼn ruk neem voor die verbod op veilings gelig sal word, en prof Willemse is van mening dat dit nóú die tyd is om in naspeurbaarheidstelsels te belê.

Boere sal moet planmaak

Hoë risiko’s en onstuimige toestande blyk om die ‘nuwe normaal’ te wees vir internasionale markte. Prof Willemse het beklemtoon dat hierdie moeilike tye met goeie strategiese beplanning maklik oorwin kan word. Daarmee saam het dr Frans Dreyer praktiese wenke gegee oor hoe verskillende prysverskansingstrategieë benut kan word ten einde die wisselagtige markte te oorkom. – Mario van den Heever & Chéri-Lynn Steyn, Universiteit van die Vrystaat