Uitstekende pryse is betaal vir uitmuntende Beefmaster-beeste wat op 13 September tydens die Rhenostervallei Beefmaster-stoet se jaarlikse veiling op Warmbad aangebied is. ʼn Beefmaster-bul is vir die topprys van R170 000 verkoop. Kenners in die vleisbeesbedryf meen met die huidige politieke onsekerheid en klimaatstoestande, is dit werklik goeie resultate. Hulle skryf dit grootliks toe aan die goeie gehalte diere wat met gepaardgaande volledige genetiese prestasiesyfers aangebied is.

Rhenostervallei
Die indrukwekkende teelwaarde-indeksgrafiek van die bul RLR160064 wat vir R170 000 verkoop is.

Daarby is daar ʼn indrukwekkende groei in die belangstelling van veral kommersiële vleisbeestelers om Beefmaster-bulle op uitstekende moederlyne soos Bonsmara-koeie te gebruik. Aanduidings is dat uit sulke kruisings, swaar speenkalwers met uitmuntende karkaseienskappe geteel word wat die afgelope tyd groot indruk in karkaskompetisies gemaak het.

Veilingspryse

Dr Hendrik Meyer, eienaar van die stoet, sê die gemiddelde prys vir die 30 bulle wat aangebied is, was vanjaar R61 300 teenoor die R46 000 van verlede jaar. Daarteenoor het die gemiddelde prys van die 30 dragtige verse van R39 200 verlede jaar, gedaal tot net meer as R30 000 vanjaar.

Rhenostervallei
Só is die bul, RLR 160064, in die katalogus uitgebeeld met sy stamboom by.

Hy glo die beter pryse wat vir bulle betaal is, is daaraan toe te skryf dat die diere se syfers akkuraat en volledig was en dat die bulle soos bulle gelyk het. Hy glo ook dat die goeie reklame en die feit dat Rhenostervallei Beefmaster-stoetery aangewys is as Vleissentraal/SA Stamboek se Elite Vleisbeestoetkudde vir 2019, daartoe bygedra het.

‘n Gewilde ras

Daar is ook besliste tekens dat die ras se gewildheid groei. Vir seker die eerste keer het verskeie kopers van buite die Bosveld-gebied bulle op die veiling kom koop. Sowat 120 mense het die veiling bygewoon en sommige het van so ver as Botswana gekom.

Die inligting by elke dier was volledig, van geboortegewig direk en maternaal van die bul self, deur die oogspieroppervlakte tot by die melk-, kalfgroei-, onderhouds-, koei, groei- en produksiewaarde.

Bul RLR 160064 wat teen R170 000 verkoop is, het ʼn indrukwekkende teelwaarde-indeksgrafiek met ʼn uiteindelike produksiewaarde van 134. Oor sy foto in die katalogus is sy stamboom ook uitgebeeld. Die koper had dus geen twyfel oor wat dié bul in sy kudde kan vermag nie.

Beefmasters blink uit

Paul van Vuuren van Andre Kock Limpopo wat die veiling aangebied het, sê sy indruk is dat die Beefmasters ʼn geweldige invloed op die vleisbeesbedryf het. Veral in die gebied wat sy onderneming bedien, begin al hoe meer kommersiële vleisbeesboere van dié bulle te gebruik. Hy glo dit kan toegeskryf word aan die uitstekende groei van sulke kruisspeenkalwers.

Paul van Vuuren van Andre Kock Limpopo (links) saam met Hardus Steenkamp, Chris van Heerden en Christiaan le Roux.

Op een plaas waar daar van ʼn gewilde vleisbeesbulle na Beefmaster-bulle oorgeskakel is, het die gemiddelde speengewig van die kalwers in die eerste jaar met 39kg toegeneem. Sulke kalwers vaar dan ook uitstekend in voerkrale en deur die land begin Beefmaster-kruisings groot indruk te maak in karkaskompetisies.

Aanpasbaar in Kalahari-toestande

In die Kalahari waar versengende hitte en diep sand ʼn uitdaging vir bulle van die meeste vleisbeesrasse is, wys die Beefmaster sy staal en begin hy daar ook vinnig veld wen. In die stoetbedryf is die Beefmaster nou ook die ras wat die tweede vinnigste groei, sê Paul.

Hy glo al hierdie voordele wat die beesras inhou het, tesame met die goeie aanbod wat Hendrik op sy veiling gehad het, gesorg vir die goeie pryse onder uitdagende omstandighede. Die Rhenostervallei Beefmaster-stoet is in 2007 geregistreer. Die boerdery word op twee plase, Rhenostervallei naby Radium en Roodepoort naby Naboomspruit in Limpopo bedryf.

Van links is Kobus Stapelberg, Chris van Niekerk en Eras van Niekerk. Eras het van Botswana af gekom om die veiling by te woon.

Teling gerugsteun deur tegnologie

Die teeldoewit is om meerderwaardige bulle en verse aan die stoet- en kommersiële mark beskikbaar te stel. Die teling word gerugsteun deur moderne tegnologie soos DNS-ouerskapbepaling, beraamde teelwaardes, prestasietoetsing en streng keuring volgens rasstandaarde vir vrugbaarheid, bouvorm en groei.

Akkurate beraamde teelwaardes wat bereken is uit gegewens van die prestasie van die diere en hul voorgeslagte en verwantes, is vir hom noodsaaklik nadat hy vroeg ʼn stel afgetrap het met diere met foutiewe ouerskap.

ʼn Dier met foutiewe ouerskap is eintlik ʼn groter risiko vir ʼn kudde as een sonder ʼn bevestigde stamboom. ʼn Bul met ʼn bewese identiteit gebruik ʼn teler doelgerig om die bloedlyne en genetiese eienskappe te benut, terwyl hy die bul sonder sulke bevestigde inligting sal vermy of baie versigtig in sy kudde sal inbring, sê Hendrik. –Andries Gouws, AgriOrbit