Die hoogste prys by die 2019 Bonsmara SA vroulikedierveiling is betaal vir ’n 3-in-1 van Syferfontein Bonsmara. Lot 3 het vir R180 000 onder die hamer gekom. Die motivering vir dié hoë prys lê by die top genetiese lyne van beide die koei, SYF 15-102, en haar bulkalf, SYF 18-226. SYF 18-226 is die seun van die bekende LAR 14-173, wat in 2018 vir ’n rekordprys van R1,8 miljoen onder die hamer gekom het. Die kalf se ma kom ook uit ’n top genetiese lyn en is die dogter van SYF 12-090, wat in 2016 aan Boeram Venter van Disco Bonsmara verkoop is vir R400 000. Nico Pieterse van Syferfontein Bonsmara, die verkoper van Lot 3, het dié lot met goeie rede beskryf as die ‘beste van twee wêrelde’.

Cassim Hassim saam met Nico Pieterse en sy vrou, Dorothy. Voor is die Pieterse kleinspan: Viljoen, Ingrid en Louwrens.

Die lot is gekoop deur Cassim Hassim van Hassim Bonsmara. Hassim boer naby Bethal in Mpumalanga en het, nadat hy lank daarvan gedroom het, in 2012 met sy stoetboerdery begin. Die Hassim Bonsmara-stoet is nou meer as 200 teelkoeie sterk en hy plaas hoë prioriteit daarop om in goeie, beproefde genetika te belê. “Ek het vandag spesifiek die veiling bygewoon om lot 3 te koop, en ek was bereid om ’n stewige prys te betaal omdat ek baie graag die genetika van LAR 14-173 in my stoet wil inbring. Ek wil my stoet ’n verdere hupstoot gee, en die kombinasie van dié twee uitstekende genetiese lyne is volgens my die manier om dit te doen.”

Alhoewel daar lotte was waarop die hamer nie geval het nie, is daar in die algemeen baie goeie pryse by die veiling behaal. Twee ander lotte, lot 27 en 28, het ook uitskieter-pryse behaal. Lot 27, ’n dragtige koei van Allem Brothers, het vir R150 000 onder die hamer gekom. Die lot is deur Wildebeestfontein gekoop. Lot 28, ’n 3-in-1 van Arcadia Bonsmara, is vir R165 000 deur G10 Bonsmaras gekoop. Verskeie lotte behaal ook pryse rondom R90 000 en R70 000.

Die gemiddelde prys op 3-in-1 lotte was R57 333. Die gemiddelde prys op dragtige koeie was R85 000. Die hoogste gemiddelde prys op dragtige verse was R44 000. Twee lotte, lot 44 van Up George Bonsmaras en lot 54 van Bloukraan Bonsmaras, het in die kategorie die hoogste prys van R65 000 behaal. Die veiling is aangebied deur Vleissentraal met Mike Kilassey as afslaer.

“Ons is baie tevrede met hoe die veiling verloop het,” het Louis Steyl, rasadviseur van Bonsmara SA, na afloop van die veiling gesê. “Dit is ’n positiewe teken oor die toestand van die bedryf en ons glo Bonsmara-telers het ’n goeie jaar wat voorlê. Ons is ook opgewonde oor wat die verspreiding van die genetika vir die bedryf gaan beteken.”

Vroeër die oggend is Bonsmara SA se jaarlikse Rooi Ras-geleentheid gehou. Klik hier om meer oor die geleentheid te lees. Besoek die hutsmerk, #RooiRas2019, vir nog hoogtepunte. – Marike Brits, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here