Die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa) spits hom die afgelope paar jaar daarop toe om gemoedsrus vir die kopers van lewendehawe te bewerkstellig. Hierdie gemoedsrus het deur middel van ’n aanlyn-sertifiseringstelsel vir bulle momentum opgebou. Ramme kon intussen doeltreffend by hierdie elektroniese stelsel gevoeg word. Prof Dietmar Holm het onlangs op RSG Landbou hieroor gesels.

Die nuwe aanlynstelsel is ’n elektroniese sertifiseringstelsel wat vir die sertifisering van manlike diere se teelgeskiktheid gebruik word. Die doel van die sertifiseringstelsel is om seker te maak dat kopers gemoedsrus kan hê as hulle ramme of bulle koop.

“Ongelukkig gebeur dit dat diere wat siektes dra, verkoop word. Hulle voldoen dan nie aan die standaarde wat aanvaarbaar is vir ’n teeldier nie – spesifiek in die geval van manlike diere,” sê prof Holm.

Hy meen die enigste manier om dit te bestuur, is deur middel van ’n eenvormige veterinêre of veeartsenykundige sertifiseringstelsel wat enige koper aan die handelsmerk kan uitken. Hierdie handelsmerk, wat die Ruvasa-handelsmerk sal wees, sal as ’n waarborg dien van ’n hoë gehalte bul of ram wat aan Ruvasa se minimum vereistes voldoen.

“Ruvasa het die laaste paar jaar baie momentum opgebou met die elektroniese sertifisering van bulle. Ons is baie tevrede met hoe die projek verloop het en hoe die sertifisering van bulle op ons elektroniese stelsel die afgelope jare toegeneem het.”

Daar was aanvanklik ook ’n stelsel vir ramme, maar klagtes oor die eenvormigheid van die sertifisering het ontstaan. Ruvasa het intussen ’n projek bekendgestel om die standaard vir ramme eenvormig te kry, en het dit daarna oorgedra na die elektroniese stelsel toe.

“Die sertifiseringstelsel werk nou baie goed en ’n paar duisend sertifikate word al elke jaar vir bulle uitgereik,” sê prof Holm. Die stelsel se ramafdeling gaan nou deur Ruvasa bemark word.

Nog ’n opwindende projek wat ook tans deur Ruvasa gedryf word, behels ’n skakelingsprojek met SA Stamboek waar die sertifikaat met ’n dier se Stamboek-profiel verbind word. Wanneer die sertifikaat uitgereik word, sal dit dan by daardie dier se profiel by Stamboek gevoeg word.

“Hierdie projek is nog in ’n ontwikkelingsfase, maar dit is baie opwindend vir die bedryf. Dit sal beteken dat ’n mens ver in die toekoms, selfs al is ’n dier lankal reeds verkoop, kan sien wanneer hy gesertifiseer is, watter toetse op hom gedoen is en watter veearts hom gesertifiseer het,” sê hy. – Elmarie Helberg, RSG Landbou