Sclerotinia sclerotiorum is ­’n skadelike swam-patogeen wat kop- of stamvrot by sonneblom kan veroorsaak. Stamvrot is nie ’n ernstige bedreiging vir sonneblomproduksie in Suid-Afrika nie, maar stamvrot kan groot skade aan opbrengste lewer. Dr Bradley Flett van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse oor sklerotinia op sonneblom het onlangs op RSG Landbou hieroor gepraat.

Sklerotinia begin as ’n sclerotium of ’n klein struktuur wat die grond binnedring en kan tot sewe jaar hier oorleef. Wanneer ’n seisoen dan hoë reënval ontvang, vorm die struktuur apothecia of spore wat uiteindelik die kop van die sonneblom besmet.

Die swam besmet die agterkant van die kop en die weefsel word sag, ligbruin en sponsagtig. Hierdie besmetting strek in die ontwikkelende kop en af in die stingel en uiteindelik bly slegs die vesels aan die agterkant van die kop en boonste stam oor. Die besmette saad aan die voorkant van die kop val uiteindelik uit die kop weens die gewig. Groot, swart sclerotia ontwikkel onder die saadlaag en om die sade.

Volgens dr Flett is verskeie beheerpraktyke getoets en nagevors. Een hiervan behels die omploeg van die grond om die sclerotium te begrawe. Hierdie praktyk is egter problomaties, aangesien dit net weer in die volgende ploegaksie uitgeploeg kan word. Daar is nie kultivars wat heeltemal bestand is teen sklerotinia-kopvrot nie, maar wel ’n paar wat effens meer weerstand as die ander het.

Sodra produsente kopvrot waarneem, moet hul so gou moontlik chemikalieë spuit sodat die plant doodgaan en geoes kan word en die swam nie versprei nie. Daar bestaan biologiese beheerprodukte, wat behels dat die spore van ’n spesifieke swam op die lande uitgegooi word. Hierdie spore val die sklerotinia aan terwyl hulle nog in die grond is. Onkruidbeheer is noodsaaklik aangesien dit die inokulum vir die volgende seisoen verminder. – Elmarie Helberg, RSG Landbou

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here