Reën in die Vrystaat: Boere dankbaar, maar vloede rig skade aan

411
Reën
Reën in die Tweeling-omgewing.

Die meeste Vrystaatse produsente juig oor die goeie reën wat onlangs in die provinsie uitgesak het, maar dit het ook uitdagings tot gevolg, naamlik die toestand van paaie in die landelike gebiede en skade aan oeste.

Read it in English

Volgens ’n opname wat die streeksverteenwoordigers van Vrystaat Landbou (VL) gedoen het, het die meerderheid distrikte bogemiddelde reën ontvang. Volgens Koot Naude, streeksverteenwoordiger in die Ngwathe-distrik wat dorpe soos Heilbron, Edenville en Parys insluit, is daar nie tans vloedskade in die gebied nie, hoewel sekere landerye erg verspoel het.

Vloedskade raak paaie en landerye

Naude sê dat daar op sekere dele nog sonneblomaanplantings gedoen moet word, maar dat die nat toestande dit nie nou toelaat nie. ’n Groot kwelpunt is egter die toestand van paaie in die distrik. “Dit het nog meer versleg en op sekere dele is die paaie heel onbegaanbaar,” sê hy.

Die Nketoana-distrik, met dorpe soos Reitz en Lindley, het alleen reeds 100mm se reën gehad. Volgens Nollie Steyn, VL-streeksverteenwoordiger vir die distrik, is daar nog heelparty produsente wat koring moet stroop. Ook híér is die toestand van paaie nou ’n groot probleem.

Intussen sit sekere produsente in die Hoopstad- en Bultfontein-distrikte met hande in die hare weens erge vloedskade aan nie net landerye nie, maar ook aan huise. Benewens die feit dat dié produsente skade aan infrastruktuur het, bestaan die moontlikheid dat hulle aanplantings verloor.

Rampfonds om verligting te bring

VL is reeds in gesprek met die hoof van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in die Vrystaat, maar sal ook binne eie geledere kyk waar die nood verlig kan word.

Die organisasie het ’n rampfonds om boere by te staan. Lede van die publiek of organisasies wat ’n bydrae wil lewer, kan hul naam SMS na 37846 (SMS’e kos R1. B’s en V’s geld). VL sal dan kontak maak. – Persverklaring, Vrystaat Landbou