Wydverspreide reën in die Wes-Kaap op Maandag 25 Mei is baie goeie nuus vir veral wintergraanprodusente.

“Die reën het op ’n kritiese tyd vir die wintergraanprodusente gekom, met aanplantings wat so te sê afgehandel is. Opvolgreën gaan nou deurslaggewend vir goeie oeste wees, terwyl die provinsie se ekstensiewe veegebiede dringend reën nodig het. Talle produsente se oorlewing hang af van baie goeie reënval dié winter,” het Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, gesê. 

Kaapse Metropool

Die gebied se graanaanplantings is 95% afgehandel en die gemiddeld van 20mm reën het op die regte tyd gekom. As gevolg van die droogte is daar tans geen natuurlike weiding nie.

Swartland

Na ondergemiddelde oeste die afgelope vyf jaar weens ondergemiddelde reënval, het die Swartland vanjaar goeie reënval en ‘n bogemiddelde oes krities nodig. Produsente is dankbaar vir Maandag se reën wat op plekke soveel as 28mm gemeet het. Met 95% van die aanplantings wat afgehandel is, is goeie opvolgreën nodig.

Rooi Karoo

Die gebied het Maandag ‘n gemiddelde reënval van 12mm gehad, wat goeie nuus is vir produsente wat reeds koring, lupiene, hawer en kanola aangeplant het. Aanplantings is 90% afgehandel en behoort teen die einde van volgende week klaar te wees. Die gebied het die afgelope vyf jaar vanweë die droogte baie swak tot geen oeste gehad nie en geen natuurlike weiding is beskikbaar nie.

Overberg

Die Overberg het in die tweede helfte van Januarie ‘n bogemiddelde reënvalsyfer aangeteken wat weidingstoestande ‘n goeie hupstoot gegee het, maar geen beduidende reën het ná Februarie geval nie. Produsente het in April weidings, kanola en gars geplant en koring is vanaf die begin van Mei geplant. Die meeste aanplantings is afgehandel. 

Vanaf April het die weidingsituasie vinnig agteruit gegaan en diere word nou gevoer. Produsente is dankbaar vir Maandag se reën van tot 35mm op plekke, maar opvolgreën is noodsaaklik.

Swellendam en Hessequa

In die Swellendam- en Hessequa-gebiede is diesaaigebied baie droog en die plantproses staan einde se kant toe. Teen die Langeberge het graan reeds opgekom, maar verder weg word daar in baie droë grond met min ondervog geplant.

Graanprodusente het die vorige drie jaar baie swak oeste as gevolg van die ondergemiddelde reënval gehad en vee word ook hier gevoer. Dit was ook een van die droogste Meimaande wat die gebied al beleef het. Sommige produsente wag nog vir vog om koring te plant en goeie winterreën is baie nodig. Tussen 2,5 en 20mm reënval is Maandag in die gebied gemeet.

Knysna, Mosselbaai en Plettenbergbaai

Dié gebied het ook Maandag broodnodige reën ontvang met tot 20mm wat in sekere dele gemeet is. Groot dele van die gebied kry steeds baie swaar en is baie droog. Herbertsdale, Vleesbaai en dele van Brakrivier se reënval is nog ver onder gemiddeld.

Melkprodusente se weidings is steeds onder druk weens ‘n tekort aan besproeiingswater. Voer word ten duurste aangery en lusern- en strooipryse is hoog vanweë die beperkte aanbod. Groenteboere het ná die Januarie-reën met groot aanplantings gewaag, maar die ondergemiddelde reën die afgelope twee maande het die oeste geknou.

Saaiboere in die streek is besig om in droë grond of grond met min vog te saai. Vroeë hawer-, kanola- en weidingsaanplantings het opgekom, maar staan nou stil weens te min grondvog. Die warm dae in die eerste week van Mei het gesaaides ook baie geknou. Saaiboere is bekommerd oor die seisoen as gevolg van die vorige vier jaar se swak opbrengste weens die droogte.

Klein-Karoo en Sentraal-Karoo

Tabel 1 dui die totale reёnval vir Oudtshoorn vir die afgelope ses jaar aan. Die grootste deel van die gebied is steeds in die knyptang van ’n knellende droogte en niks het in die afgelope 12 tot 24 maande verander wat omgewingsfaktore betref nie.

Enkele lande lusern en wintergraan word aangeplant, hoofsaaklik vir moontlike eie gebruik. Opvolgreën is uiters noodsaaklik, want die Kammanassiedamvlak staan tans op 0,1% en die Stompdriftdam op 8,7%.

Alle voer word steeds aangekoop en produsente se kontantvloei is onder geweldige druk. ‘n Gemiddeld van 9mm reën is Maandag op Oudtshoorn gemeet. 

Tabel 1: Oudsthoorn se jaarlikse reënval van 2014 tot 2019. Die 30-jaar langtermyngemiddelde reënval vir Oudtshoorn is 325mm.

JaarReënval per jaar
2014276
2015174
2016128
2017126
2018114
201987

Dele van die Sentraal-Karoo het wel vanjaar somerreën gehad, maar nie genoeg om die droogte te breek nie. Plaasdamme is leeg en die aanplant van weidings is buite die kwessie. Normaalweg is daar in April goeie reën wat goed is vir wintervoer, maar vanjaar was daar geen reën in April nie. Die situasie is kommerwekkend, veral met die winter op hande, want die bietjie kos op die veld gaan nie genoeg wees vir die hele winter nie.

Februarie se beter neerslae in sekere dele het opslag en grasgroei tot gevolg gehad, maar bossieveld, wat die vernaamste veevoeding is, het swak gereageer omdat daar nie goeie opvolgreënval was nie. 

Baie eetbare plante het as gevolg van die droogte gevrek en daar word gereken dat die veld, met normale reënval, vier tot vyf jaar en selfs langer kan vat om weer na normaal te herstel. Met die bogemiddelde temperature wat die laaste ruk nog voorgekom het, verdroog gras uitermatig vinnig en moet daar nou weer uit die sak op voer staatgemaak word.

Gegewe die groot verwagting rakende die mielie-oes, hoop ons op hulp uit daardie oord vir baie van ons streke.  Die beperkings onder die huidige COVID-19-regulasies in terme van jag op plase, veral in die Karoo, plaas verdere druk op produsente se kontantvloei en hul vermoë om voer vir hul vee aan te koop.

Witzenberg

Die Witzenberg-streek was ten spyte van inperkingsregulasies geseënd met ‘n baie goeie vrugte- en groente-oes. Dit is egter nou baie droog in die streek, veral vir gesaaides wat reën nodig het. Tussen 30 en 90mm reën is in die gebied aangeteken. 

Cederberg

In die Agter-Pakhuis-, Citrusdal- en Graafwater-omgewing staan die gemiddelde reënvalsyfer vir vanjaar op ‘n skrale 10mm. Die vlak van die Clanwilliamdam staan op 5,2%, wat ‘n groot bekommernis vir die landbou is.

Gunstige weer het wel gesorg dat die sitrusoes goed vorder. Rooibosteeplantjies is gereed vir uitplant, maar dit sal nog baie meer moet reën. ‘n Gemiddeld van 18mm reën is Maandag in die gebied gemeet.

Noordelike gebied van die Weskus

Die Bitterfontein-, Kliprand- en Landplaas-omgwing is reeds sedert 2015 krities droog en die gebied het reën baie dringend nodig. Veeprodusente in dié gebied is van droogtehulp afhanklik. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap