Na die jarelange droogte in die Noord-Kaap het dit vanjaar weer begin reën. Saam met die reën het daar egter ook ’n ongekende hoeveelheid sprinkane uitgebroei, en boere moet behoorlik bontstaan om dié insekte uitgeroei te kry voordat hulle op die gesaaides van besproeiingsboere en landerye van die Vrystaatse mielieboere toeslaan.

Die sprinkane is eers in De Aar en later ook in gebiede van Prieska, Vosburg, Strydenburg, Hopetown en Britstown aangemeld. Danie Jacobs, die koördineerder tussen die boere op die grond en die Noord-Kaapse landboudepartement, sê op die oomblik broei sprinkane in die gebied oos vanaf Keimoes, Kenhardt, Carnarvon tot by die grens van die Westelike provinsie uit.

Hy is al sedert die vroeë negentigerjare betrokke by die beheer van sprinkane in die Noord-Kaap en sê dit is die grootste uitbreking wat die provinsie sedert 1994 nog getref het. “Toe dit begin reën na die droogte het ons almal verwag daar kan sprinkaanprobleme kom, maar niemand het gedink dat van so ’n groot omvang gaan wees nie,” sê hy.

Eerste werklike uitbreking sedert 2013

Die laaste werklike sprinkaanuitbreking was in 2013 en daarna het die droogte vir sewe jaar die Noord-Kaap getref. Die boere het vinnig ingespring en gehelp om dié probleem onder beheer te kry. Kursusse is aangebied omdat dit nie net enigeen is wat met die gif mag werk nie. Die gifdepot op De Aar en die landboudepartement doen ook alles in hul vermoë om die plaag te bestry en te verhoed dat dit na die mielielande van die Vrystaat versprei.

Die departement het selfs ’n vliegtuig na die Prieska-gebied gestuur om te help met bespuiting, maar weens verskeie redes was dit tevergeefs. Daar is te min aanloopbane op plase en die vliegtuig moet elke keer ver afstande vlieg om gif te gooi en dan weer terugkeer. Die vliegtuig kan ook net vroeg in die oggend werk as dit nog koel is, en verder kan daar net 250ℓ gif op ’n slag gestrooi word. ’n Privaat helikopter word in die Douglas-omgewing gebruik en dit is meer effektief.

Christo Meyer, die hoofbeampte in die Prieska-omgewing, sê hierdie uitbreking was erger as wat hy in die verlede kan onthou. Hy sê die beamptes het daagliks te doen met verskeie uitdagings in terme van sprinkaanbeheer. As gevolg van droogte staan heelwat plase leeg en die uitbroei van swerms word nie betyds aangemeld nie. Dieselfde geld op baie regeringsplase waar daar nie op ’n daaglikse basis aktief geboer word nie.

Versuiming om swerms aan te meld ’n probleem

“Die grootste probleem wat ons vanjaar ervaar het, is boere wat nie sprinkaanswerms aanmeld nie maar eerder hoop dat die insekte sal trek voordat ’n groot probleem ontstaan. Dit is juis hier waar die fout lê. As ons die swerms vroeg reeds kon kry en doodmaak, sou dit nie so ’n groot probleem geword het nie,” sê Christo.

Hy sê ook dit is te verstane dat boere hul hekke gesluit hou ter wille van plaasveiligheid, maar dit belemmer weer die beamptes om by die swerms uit te kom.

Christo is egter positief dat die sprinkaanplaag onder beheer gebring is. Hy sê die voetgangers is tot ’n groot mate uitgewis. Die vlieërs het ook hul rigting gekry en trek nou in ’n noord-noordoostelike rigting.  Alles moontlik is deur die beamptes gedoen om die sprinkane te keer voor hulle in die gesaaides intrek.

Daar is wel gevalle waar die sprinkane in landerye van die besproeiingsboere in die Prieska-omgewing ingetrek het, maar hulle is onmiddellik bespuit en die skade wat aangerig is was minimaal. Omdat die sprinkane gedurig aan die trek is en swerms vroeg reeds al bespuit kon word, was die skade wat aan weiding gedoen is ook nie enorm nie.

Volgende uitbreking sal vinniger getakel word

Dat die sprinkane weer gaan uitbroei in die volgende reënseisoen is volgens Christo ’n gegewe, maar hy sê ná die droogte is die spuite en pompe weer herstel en meer mense is opgelei om te help. Hy glo met die volgende uitbreking sal die probleem vinniger in die kiem gesmoor kan word. 

Danie stem saam dat dié probleem vir ’n paar maande met ons gaan wees en daagliks beheer moet word. “Die sprinkane is tans onder beheer; dit beteken egter nie dat ons nou agteroor kan sit nie. Die sprinkane vrek eers op ’n natuurlike manier as die eerste ryp ons in Mei tref,” sê hy. – Koos du Pisanie, AgriOrbit