’n Hommeltuig kan met groot welslae gebruik word om krokodille mee te tel, wat andersins moeilik is.

Hommeltuie en die toerusting en tegnologie wat daarmee gepaard gaan, het die afgelope tyd beduidend verbeter. Dr Debbie Jewitt, ’n ekoloog van Ezemvelo in KwaZulu-Natal en self ’n opgeleide hommeltuig-vlieënier, sê hommeltuie het só verbeter, dat dit al doeltreffend aangewend word om mense van lughawens na hotelle te vervoer, as ambulanse gebruik word en terselfdertyd kleiner en ligter gemaak word, met doeltreffender toerusting aan boord, sodat dit langer in die lug kan bly en dus verder kan vlieg.

“In die landbou en natuurbewaring kan hommeltuie gebruik word om toegang tot ontoeganklike plekke te kry, en daarby is dit goedkoper en veiliger as vliegtuie. Altesaam 66% van die mense wat in natuurbewaring omkom, sterf in vliegongelukke.

“Dié tegnologie is al in die Eerste Wêreldoorlog gebruik, toe kameras aan posduiwe vasgemaak is om vyandelike stellings en bewegings te bespied. Vandag is hommeltuie met kameras toegerus wat die fynste besonderhede kan registreer,” sê sy.

Rol in natuurbewaring

In natuurbewaring kan hommetuie vir baie meer as net die monitering van wild en hul habitat gebruik word. Dit kan ook ’n belangrike rol speel in bestuur, die verskaffing van tegniese dienste, die bemarking van ekotoerisme, wetstoepassing, optredes teen stropers en soek- en reddingstogte.

In die bestuur van bewaringsgebiede kan dit gebruik word om indringerplante te monitor, heinings en infrastruktuur te inspekteer, brandskade te takseer, erosie te bespeur, wild te tel en diere te verskuif.

Afgeleë gebiede is baie gewild by stappers, maar dit is gevaarlik omdat die weer baie vinnig kan verander en stappers dan dikwels vermis raak. Om met vastevlerkvliegtuie en selfs helikopters in sulke bergagtige gebiede te vlieg, is dikwels riskant en boonop baie duur.

Groot kostebesparing

Debbie sê ’n onlangse reddingspoging met sulke vliegtuie het sowat R77 miljoen gekos. “Hommeltuie kan egter in ’n soekgebied ingedra word en kan uitstekende beelde van die kranse, oorhangrotse en diep valleie registreer en terugstuur teen ’n fraksie van die koste. Hommeltuie is normaalweg veilig en dit is maklik om hulle te laat vlieg, maar sonder deeglike instandhouding en goeie beplanning kan hulle faal.

“Van die algemeenste foute wat mense maak, is dat hulle nie die gebruiksaanwysings lees nie en nie die tuisbasis se koördinate insleutel nie. Buitengewone koue en hitte kan ook die werking van die vliegbeheer-meganismes en sensors beïnvloed.

“Wind word ook dikwels nie behoorlik in ag geneem nie. As die hommeltuig teen die wind vlieg, kan dit die reikafstand korter maak. Verder is daar soms gevaarlike lugstrome op die hoogte waarop die tuig vlieg, wat nie noodwendig op die grond voelbaar is nie. Hoe hoër ’n mens vlieg, hoe dunner raak die lug en dit het ’n uitwerking op die hanteerbaarheid van die tuig. Ag moet ook geslaan word op die vliegroetes van vliegtuie om botsings te voorkom,” verduidelik sy.

Hommeltuie en wild

Wanneer hommeltuie op wildsplase gebruik word, kan dit ’n ongewenste en onvoorsiene uitwerking op die wild hê. Selfs al is daar nie baie sigbare versteuring nie, kan dit spanning by die diere veroorsaak.

Die invloed van ’n hommeltuig op wild sal afhang van die spesie, geskiedkundige ondervinding van die diere ten opsigte van lugverkeer, omgewing, tipe, grootte en kleur van die tuig, en die manier waarop dit gehanteer word.

Lees meer oor die gebruik van hommeltuie op plase.

Debbie sê hommeltuigvlugte word deur die SA Burgerlugvaartowerheid beheer, en daar is ’n duisternis regulasies en vereistes waaraan voldoen moet word. “Veral as ’n mens ’n hommeltuig kommersieel wil gebruik, kan dit ’n lang (tot twee jaar) en baie duur proses wees om ’n lisensie te bekom en aan al die regulasies te voldoen. In die praktyk behels dit feitlik dieselfde vereistes as wat aan ’n kommersiële lugdiens gestel word.

“Hommeltuie veroorsaak egter ’n rewolusie in talle bedrywe en die aanwending daarvan raak ál meer gesofistikeerd om verfynde aksies goedkoper te kan uitvoer.” –Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Wildlewebestuur (SAWMA) by +27 21 554 1297 of stuur ’n epos aan elma@mweb.co.za.

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer
,hartwater, Dorpers, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom