Vrystaat Landbou
VKB het ’n rekordbedrag by sy sesde Plaasveiligheid-gholfdag in Clarens ingesamel en aan die VKB VL Veiligheidslessenaar geskenk. Van links is Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), Jakkals le Roux, voorsitter van die Landelike Veiligheidskomitee by VL, dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, Gerhard Kriel, hoof uitvoerende beampte van VL, en Koos Janse van Rensburg, besturende direkteur van die VKB-groep. (Foto: Vrystaat Landbou)

VKB en sy verskaffers het onlangs ’n gholfdag ten bate van Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidslessenaar gehou. “Die geld wat ingesamel is, is nie uit landbouers vir landbouers nie. Dit is uit die ondersteunende bedryf ter wille van landbouers se veiligheid,” sê Koos Janse van Rensburg, besturende direkteur van die VKB-groep, oor die rekordbedrag wat op 11 April 2019 vir Vrystaat Landbou (VL) se veiligheid ingesamel is.

Volgens hom vat VKB, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, met sy Plaasveiligheid-gholfdag in Clarens “hande met sy verskaffers” om produsente te ondersteun.

“Dit is ’n groot voorreg om deel te wees hiervan,” sê Gerhard Kriel, hoof uitvoerende beampte van VL. “Maar wat nog groter is, is om die harte van die mense te sien vir veiligheid en georganiseerde landbou. Ons wil altyd daarop voortbou.”

Janse van Rensburg en sy span hou die laaste ses jaar dié gholfdag om geld vir die VKB Vrystaat Landbou Veiligheidslessenaar in te samel en het vanjaar ’n allemintige R755 000 aan VL oorhandig. Dié VKB-bydrae is R145 000 meer as in 2018. Altesaam 39 spanne het aan die gholfdag deelgeneem en meegeding om pryse ter waarde van sowat R90 000 los te slaan.

Funksie van die veiligheidslessenaar

Volgens dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, het die VKB VL Veiligheidslessenaar ’n tweeledige doel. “Eerstens is dit om interne veiligheidstrukture op grondvlak te bemagtig en uit te brei om misdaad en veiligheid voorkomend te hanteer,” sê sy. Die ander funksie is ekstern om skakeling met alle rolspelers, waarvan die Suid-Afrikaanse Polisiediens die hoofrolspeler is, binne die Landelike Beveiligingstrategie uit te brei.

Die lessenaar help onder meer om plaasaanvalle te voorkom, dit samel belangrike inligting in om misdaad te bekamp en opleidingsessies word vir VL se lede aangebied.

Vrystaat Landbou
VKB, sy verskaffers en ondersteuners het op 11 April 2019 in Clarens bymekaargekom om tydens sy jaarlikse Plaasveiligheid-gholfdag geld vir Vrystaat Landbou se VKB VL Veiliheidslessenaar in te samel. (Foto: Vrystaat Landbou)

Afhanklik van landbouers

“Vrystaat Landbou is baie dankbaar dat ons hierdie goeie verhouding met VKB kan hê,” sê Kriel.

Volgens Janse van Rensburg is die gholfdag een wat VKB na aan die hart lê. “Ons voortbestaan is afhanklik van die produsente – ons landbouers in die gebiede wat ons bedien. Uit hierdie oogpunt is hul veiligheid vir ons kardinaal belangrik. Sonder hulle het ons nie ’n bedryf nie en sonder hulle het ons nie ’n besigheid nie.”

Hy het die volgende groot verskaffers uitgesonder: Total, Standard Bank, BCX en Nashua. Hulle het ’n reuse-bydrae gemaak om ’n groot bedrag aan VL te oorhandig.

Oresti Christodoulou, algemene handelsbestuurder by Total Suid-Afrika, sê veiligheid is een van Total se belangrikste waardes. “Die veiligheid van landbouers is noodsaaklik om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker. Daarom ondersteun ons alle inisiatiewe wat die veiligheid in die land en ook die veiligheid van landbouers bevorder.”

Volgens Danie Retief, streekslandboubestuurder by Standard Bank in die Vrystaat en Noord-Kaap, is voedselsekuriteit belangrik vir verbruikers en die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daarom moet landbouers voedsel in ’n veilige omgewing kan produseer.

“Met dit in gedagte, is dit vir Standard Bank belangrik dat produsente hulle bedryf in ’n veilige finansiële en fisiese omgewing beoefen en wil die bank ’n positiewe bydrae maak. Ons glo dat ’n land wat vir sy landbouers sorg, vir sy toekoms sorg.” – Persverklaring

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here