Die wolmark het op 23 Mei 2018 hoër verhandel. Die Cape Wools Merino-aanwyser styg met 5,6% en 1 066 punte om teen R218,36/kg vir skoonwol te sluit. Die Australiese EMI het met 4,8% toegeneem. Die Cape Wools Allewol-aanwyser styg met 5,6%. Die wolmark verhandel nou teen rekordvlakke weens die skynbaar onversadigbare vraag na goeie gehalte lang en fyn wol.

Read it in English. 

Produsente het uitstekende opbrengste verdien en ’n rekordprys van R218,10/kg vir vetwol is aan NEJ Outram en Seuns van die Jansenville-distrik betaal vir 16 mikron wol wat deur OVK/CMW-wolmakelaars aangebied is. Die nuwe nasionale rekordprys wat op die wolveiling behaal is, was vir ’n enkelbaal-lot BH met ’n skoonopbrengs van 67,73% uit die skeersel van NEJ Outram en Seuns, Die koper was Standard Wool.

Dit was ’n groot veiling waarvan die meeste wol wat aangebied is, van gemiddelde lengte en fyn was. Die swakker rand het nie veel bygedra nie. Soos die seisoen einde se kant toe staan, raak dit duidelik dat wollewerings noemenswaardig laer gaan wees as in die ooreenstemmende tydperk in die vorige seisoen.

Die kompetisie tussen kopers was goed en Standard Wool SA koop vandag die meeste bale op die veiling. Altesaam 99% van die 9 358 bale wat aangebied is, is verkoop.

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was:

  • 18 mikron styg met 5,7% en sluit teen R237,55/kg;
  • 18,5 mikron styg met 5% en sluit teen R224,38/kg;
  • 19 mikron verhoog met 4,6% en sluit teen R209,14/kg;
  • 19,5 mikron versterk met 5,2% en sluit teen R203,89/kg;
  • 20 mikron is 5,9% hoër en sluit op R203,21/kg;
  • 20,5 mikron is 6,1% sterker en sluit op R200,98/kg;
  • 21 mikron styg met 6,3% en sluit op R201,32/kg;
  • 21,5 mikron het 5,6% toegeneem en sluit op R197,78/kg;
  • 22 mikron styg met 5,9% en sluit op R196,98/kg;
  • 22,5 mikron is 5,5% hoër en sluit op R190,21/kg.

Die volgende veiling vind op 30 Mei 2018 plaas wanneer sowat 5 627 bale aangebied sal word. – Markverslag