Die hartroerende film wat die donker wêreld van renosterstropery oopvlek, is vanaf 12 Februarie ook op DVD en digitaal beskikbaar. Die plaaslike premiére van STROOP – journey into the rhino horn war, het in November 2018 in Johannesburg plaasgevind en sedertdien word meer vertonings regoor Suid-Afrika gedoen. Die film is ook onlangs op die nasionale uitsender in China uitgesaai, wat as ‘n groot mylpaal gesien word.

In hierdie reis tussen Afrika en Asië vestig filmmakers hulself aan die voorkant van ’n soort “volksmoord” op renosters, waar hulle eksklusiewe toegang tot die kwessie kry. Talle rolspelers word deur die kwessie geraak – van veldwagters, vlieëniers en honde-eenhede, wat die parke wat die hardste getref word moet patrolleer, tot wildlewestrooptogte deur die polisie en staatsaanklaers, wat onverpoos teen goed geoliede verdedigingspanne veg om geregtigheid te laat geskied.

Die groot aanvraag na renosterhoring kom hoofsaaklik uit Asië, en hier moes die filmmakers in die geheim in ’n kommunistiese land met onwettige wildhandelaars skakel. Terug op eie bodem volg die film ook die reis van ’n jong Viëtnamese navorser wat renosterhoringverkope in Afrika ontbloot.

Die film het verlede jaar internasionale filmfeeste behoorlik beïndruk en nie minder nie as tien toekennings in Amerika en Europa verwerf. Stroop is ook onlangs gekies vir die Colorado Environmental Film Festival en benoem as beste dokumentêr by die Wellington Independent Film Festival. – Elmarie Helberg, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here