Aan die begin van elke jaar is daar altyd groot afwagting vir die Departement van Omgewingsake se eerste media-konferensie. Die renosterstropingsyfers van die vorige jaar is op die agenda en mense regoor die wêreld hou sake dop. Hierdie jaar was geen uitsondering nie, en die hutsmerk #RhinoUpdate was sommer vroeg-oggend al bo aan Twitter se lys.

Hier is ’n kort opsomming van die belangrikste gesprekspunte:

Die amptelike renosterstropingsyfer vir 2017 is ’n totaal van 1 028 renosters – ’n afname van 26 diere teenoor die vorige jaar. Dit is ’n geringe afname en die grootste hiervan was in die Kruger Nasionale Park (KNP). Die afname in KNP is 24%, wat baie goeie nuus is. Daar is ongelukkig ’n maar.

Die provinsiale statistiek vertel ’n heel ander storie met ’n toename in al die ander provinsies. KwaZulu-Natal se renosterstropingsyfers het met 40% van 162 tot 222 toegeneem. Dit was geen verrassing nie, gegewe onbevestigde berigte van die kaping van die provinsie se wetstoepassers en geregsdienaars. Selfs die minister van polisie het getwiet dat die polisiediens van kriminele elemente wemel.

Veldwagters in KwaZulu-Natal het tydens verfilming van STROOP aan my vertel dat hulle male sonder tal op die spoor van stropers is en hulle aankeer, net om uit te vind dat hierdie ouens al vantevore aangekeer is, met al die bewysstukke in plek. Veldwagters plaas dus hul lewens op die spel, maar kry nie die ondersteuning wat hulle benodig en verdien nie. KNP is ’n uitsondering met baie goeie samewerking. Dit is hoekom daar goeie resultate is.

Tegnologie speel beslis ’n belangrike rol, maar soos generaal-majoor Johan Jooste altyd sê: “Tegnologie kan baie doen, maar dit is die menslike element wat die verskil maak. Dit is die veldwagter wat die inhegtenisneming uitvoer, dit is die ondersoekbeampte wat seker maak dat die saak waterdig is en dit is die aanklaer wat nie toelaat dat die goed-betaalde verdedigingspanne die stropers op ’n tegniese punt skotvry laat wegkom nie.”

Olifante se lot

’n Spesie wat dieselfde pad as renosters loop, is olifante. Die olifantstropingsyfer het landwyd bykans verdubbel tot die 68 olifante wat in 2017 gestroop is – 67 in die KNP en een in KwaZulu-Natal. Dit is kommerwekkend om te dink dat ons in 2008 presies by hierdie syfers was vir renosters. Die vraag is hoe verseker ons dat ons nie ook duisende olifante oor die volgende dekade verloor nie?

Plaaslike handel in renosterhoring

Die minister het beklemtoon dat die opheffing van die moratorium op die plaaslike handel in renosterhoring in 2017 baie publisiteit gekry het. Dit is weer wettig om binne die grense van Suid-Afrika in renosterhoring handel te dryf, maar internasionale handel is steeds onwettig. Daar was nie net hofgedinge tussen private renostereienaars en die departement van omgewingsake nie, maar twee private renostereienaars het ook aan my vertel dat hul permitte doelbewus vertraag word en dat die stelsel steeds teen hulle is.

Die minister het tydens die konferensie benadruk dat die regering aan die kant van die private renostereienaars is. Sy het ook bevestig dat sewe permitte vir die koop van renosterhoring in 2017 uitgereik is en twee vir die verkoop van horings.

Ná die laaste media-konferensie in 2018 het baie verwarring geheers oor die nasionale opgehoopte voorraad renosterhoring. In 2015 het die minister van 25 ton renosterhoring gepraat, maar daar is nou bevestig dat die voorraad tot 40 ton toegeneem het.

Min genoeg?

’n Afname in stropingsyfers is altyd goeie nuus, maar ek is bekommerd dat die getalle nie genoeg afneem nie. Ons moet in gedagte hou dat daar minder renosters is om gestroop te word. Die harde werk in die KNP word tot niet gemaak deur toename in die res van die land – in KwaZulu-Natal, Noordwes, die Vrystaat en Mpumalanga. Minister Molewa het erken dat die stryd ver van gewonne is en sy het ons natuurlik herinner aan die harde werk wat op die grond gedoen word. Dit is ’n massiewe poging, maar dit is steeds nie genoeg nie.  Bonné de Bod