Reuse-sprong vir Bosveldbulle

1037
Pryse is toegeken vir die bulle wat die beste presteer het tydens die eerste toets. Leon-Fritz Riekert het die toekenning vir die bul met die beste voeromsetverhouding gekry en dr Alex Revelas die toekenning vir die beste bul in die groeitoets. Van links is Lukas Eksteen van die Bufland-toetsstasie, Leon-Fritz Riekert en sy pa, Leon, dr Alex Revelas en sy seun, Alex junior.

Die Bufland-bultoetsstasie in die Bosveld beoog om meerderwaardige bulle ten opsigte van voerbenutting en groei te identifiseer om die vleisbeesbedryf in die noordelike dele van die land ’n hupstoot te gee. Die toetsstasie voldoen aan die vereistes van en is gesertifiseer deur SA Stamboek, wat beteken dat die resultate internasionaal geverifieer kan word.

Die toetsstasie het staanplek vir 200 diere en drie siklusse van 50 diere per maand kan hanteer word, wat dit moontlik maak om minstens 600 diere per jaar te toets.

Lukas Eksteen junior, wat die Bufland Bonsmara-stoetery op die plaas Buffelsfontein naby Naboomspruit bedryf, ’n voerkraal bestuur en ’n kommersiële vleisbeeskudde aanhou waaruit diere vir die voerkraal voorsien word, het die Bufland-toetsstasie gebou.

Hy sê vleisbeesboere in die Bosveld het jare lank die fase D-toets, wat ’n bulgroeitoets is, op hul plase gedoen. Sedert 2014 het Bufland die toets saam met ander boere begin doen en sowat twee jaar gelede het hulle besluit daar is ’n behoefte aan ’n bultoetsstasie wat meer kan bied.

Pryse is toegeken vir die bulle wat die beste presteer het tydens die eerste toets. Leon-Fritz Riekert het die toekenning vir die bul met die beste voeromsetverhouding gekry en dr Alex Revelas die toekenning vir die beste bul in die groeitoets. Van links is Lukas Eksteen van die Bufland-toetsstasie, Leon-Fritz Riekert en sy pa, Leon, dr Alex Revelas en sy seun, Alex junior.

Amptelike keuring

Die Bufland-bultoetsstasie is onlangs amptelik geopen nadat die eerste groep diere die toets deurloop het. Bonsmaras is vir die eerste proeflopie gebruik en na afloop van die toets is die diere ook amptelik deur rasverteenwoordigers gekeur. Die geriewe maak dit moontlik om diere na afloop van elke toets te keur.

SA Stamboek was van die begin af betrokke by die daarstelling van die toetsstasie. Hulle onderskryf die toetsmetode ten volle en is die data-diensverskaffer vir die eenheid.

Lukas sê die navorsing wat hy vir sy meestersgraad in besigheidsbestuur (MBA) oor die winsgewendheid van voerkrale gedoen het, het gewys dat veral voeromset ’n baie groot invloed het op die welslae wat in voerkrale behaal word.

Winsgewendheid van ’n voerkraal

In sy meestersgraad-skripsie het hy die belangrikste faktore wat die winsgewendheid van ’n voerkraal beïnvloed, nl. voerprys (hoofsaaklik mielieprys), speenkalfprys, groei (gemiddelde daaglikse toename in gewig, oftewel GDT), voeromsetverhouding (hoeveelheid voer benodig om een kilogram vleis te produseer, oftewel VOV) en die slagprys in ag geneem. Hy het ook die geslag bygevoeg in sy navorsing omdat bulkalwers normaalweg beter as verse groei.

“Een van die gevolgtrekkings waartoe ek gekom het, is dat die meting van GDT sonder om die doeltreffendheid van voerbenutting ook in ag te neem nie noodwendig tot welslae lei nie.

“Daar bestaan beslis ’n vraag na so ’n toetsgerief. Bykans 7 000 bulle word elke jaar in die Bosveld getoets. Die oogmerk is om die beste sowat 10% van dié bulle te identifiseer en in die toetssentrum te toets, en die VOV saam met groei in ag te neem om meerderwaardige diere uit te soek.

“Ons gebruik self ’n kommersiële kudde om diere vir ons voerkraal te produseer. Ek het bereken as die diere net 10g per dag beter groei met dieselfde hoeveelheid voer, kan ons die koste van die toetsstasie binne drie jaar delg,” sê Lukas.

Teelkoeie en vervangingsverse

Die Bufland-stoetery bestaan uit sowat 250 teelkoeie en sowat 50 vervangingsverse word jaarliks in die kudde behou. Die uitskotverse wat nie ooglopende gebreke het nie, word as vervangingsdiere in die kommersiële kudde van sowat 300 koeie opgeneem.

In die toetsstasie gebruik hy die DeLaval-voerstasies, wat veral vir melkbeeste gebruik word en bekend is vir die akkuraatheid waarmee dit voer afmeet en weeg. ’n Oorhoofse awegaar voorsien die stasies van voer. Daar is altesaam twaalf voerstasies, waarby tot 20 bulle om die beurt met gemak kan vreet.

In die houkrale is daar 15 vierkante meter leefspasie vir elke dier en daar is staanruimte vir 200 diere op een slag. Elke dier het ’n elektroniese oorplaatjie, wat hom identifiseer as hy vreet en die hoeveelheid voer (gewig) wat hy inneem outomaties op die rekenaarstelsel aanteken.

Gewig op oorstapskaal

Lukas sê daar is ’n oorstapskaal wat op dieselfde beginsel werk. “Elke dier word weekliks geweeg, aan die hand van sy oorplaatjie geïdentifiseer en sy gewig word outomaties aangeteken wanneer hy oor die skaal loop. Dit voorkom skryffoute, vergemaklik bestuur en bespaar arbeid, want dit is vir een tot twee werkers moontlik om al die beeste so te weeg.

“Aan die einde van die toets word die GDT en VOV van elke dier bereken, en kan die dier ook geskandeer word om karkaseienskappe soos oogspieroppervlakte, vetmarmering en vetdikte te bepaal.”

Bulle van alle vleisbeesrasse kan getoets word. Om tot die toets toegelaat te word, moet die diere aan die aanvangsgewig- en ouderdomsvereistes van die spesifieke beesras voldoen. Nadat die bulle oor ’n tydperk van 28 dae by die voer en omgewing in die toetsstasie aangepas is, begin die amptelike toets, wat 84 dae duur. Die diere kry ’n rantsoen wat vir ’n fase C-toets saamgestel is. Die eienaar van die bees betaal vir die voer en ook ’n staanfooi, wat saam gemiddeld R4 200 per dier beloop.

Wanneer diere by so ’n voerstasie vreet, identifiseer ’n elektroniese stelsel die dier en teken die hoeveelheid voer wat hy vreet outomaties aan.

Goeie voeromsetverhouding

By die amptelike opening van die voerkraal het Nick Serfontein van die Sernick-groep gesê 60 tot 70% van die kommersiële vleisbeesboere se diere word deur voerkrale gekoop. Hulle wil graag kalwers van bulle hê wat goed kan groei, ’n aanvaarbare gewig kan bereik en ’n goeie VOV het.

Hy sê ’n goeie VOV is vir voerkrale ses keer belangriker as GDT om welslae te behaal. “Dié werklikheid het tot voerkraaleienaars deurgedring toe mielies so duur geword het. My groep se voerkraal betaal premiepryse vir kalwers wat uit kuddes kom waar bulle met ’n bewese goeie VOV gebruik word. Daarby betaal ons ’n agterskot vir diere wat uitmuntend presteer het.

“Voerkrale wil graag gesonde kalwers hê, wat goed kan groei en meer vleis met minder voer kan produseer. Daarom gaan die VOV belangriker word. Dit is betreklik goedkoop om akkuraat te meet. Kenners sê ’n verbetering van 10% in die VOV kan tot 46% meer wins genereer.”

Waarde van ’n winsdrywer

Dr Bobbie van der Westhuizen van SA Stamboek sê die waarde van VOV moenie onderskat word nie, want dit is nie net ’n winsdrywer in voerkrale nie. “Diere met ’n goeie VOV kan gras doeltreffender in vleis omskep, wat ’n vleisbeesonderneming winsgewender sal maak.

“SA Stamboek sal daaroor waak dat die vereiste standaarde by die toetsstasie gehandhaaf word. Die stasie sal ’n sertifikaat kry dat hul data geverifieer is en ook ’n brandmerk kry sodat getoetste diere maklik geïdentifiseer kan word.” – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Lukas Eksteen by 082 458 7787 of stuur ’n epos aan lukas@bufland.co.za.