Die wolmark het op ’n briljante noot geopen by die eerste veiling van die nuwe wolleweringseisoen. Die Cape Wools Merino-aanwyser het met 12,4% en 2 630 punte gestyg om op ’n waarde van R238,29/kg (skoon) te sluit. Die Australiese EMI het met 3,5% gestyg. Die Cape Wools allewol-aanwyser het met 12,4% verhoog.

Read it English.

Die swakker rand en die onlangse skerp daling van die rand teenoor die Amerikaanse dollar was die grootste dryfveer vir dié reuse-styging. Verder weerspieël die prestasie die volgehoue sterk vraag na Suid-Afrikaanse Merino-wol.

McNaughton Farming van Graaff-Reinet het ’n nuwe rekordprys van R233/kg ontvang vir 17,2 mikron wol, wat deur BKB bemark is en deur Standard Wool gekoop is. Standard Wool het ook die meeste bale op die veiling gekoop te midde van sterk kompetisie.

Altesaam 99,1% van die 12 277 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (3 983), Modiano (3 965), Lempriere SA (1 421) en Stucken & Co (1 153).

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron het met 13,1% gestyg en op R272,35/kg gesluit.
  • 18,5 mikron het met 14,0% toegeneem en op R259,59/kg gesluit.
  • 19 mikron het met 12,2% verhoog en op R250,74/kg gesluit.
  • 19,5 mikron het met 14,1% versterk en op R247,54/kg gesluit.
  • 20 mikron is 14,9% hoër en het op R246,56/kg gesluit.
  • 20,5 mikron is 13,9% sterker en het op R239,41/kg gesluit.
  • 21,0 mikron het met 12,8% gestyg en op R241,68/kg gesluit.
  • 21,5 mikron het met 11,0% toegeneem en op R237,52/kg gesluit.
  • 22 mikron het met 15,5% gestyg en op R237,51/kg gesluit.
  • 22,5 mikron is 7,8% hoër en het op R228,40/kg gesluit.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 22 Augustus 2018, wanneer altesaam 8 589 bale aangebied sal word. – Markverslag