Die Nasionale Merinoskou, oftewel die BKB Merino Classic, word vanjaar op 14 en 15 Februarie in Richmond in die Noord-Kaap aangebied. Dié dorp is sentraal geleë, langs die N1 tussen Colesberg en Beaufort-Wes.

Volgens Danie Vorster, bestuurder van Merino SA, is dit ’n baie belangrike geleentheid vir die Merinobedryf. “Dit gee aan Merinotelers ’n geleentheid om hul skape ten toon te stel en gee aan ander kleinveeboere die kans om die beste Merino’s in die land te sien.”

Die fasiliteite in Richmond is ter voorbereiding van die Merino Classic opgegradeer om 700 skape onderdak te huisves. Merino SA verwag deelname van vertoners van so ver as die Suid-Kaap, Suid-Vrystaat en hoofsaaklik die Karoo-gebiede. Daar word in 37 kampioenskappe meegeding, en van die land se bekendste telers en beste Merino’s gaan aan die skou deelneem. Na verwagting sal meer as 600 skape deur ongeveer 40 vertoners aan die 2019 BKB Merino Classic deelneem.

Die skou begin Donderdag om 13:00 met die tiende Nasionale Merino Veldskou se kortwol-afdeling en eindig Vrydag ongeveer 15:00 met die spesiale kampioenskappe.

’n Belangrike aktiwiteite op vanjaar se program is die Nasionale Merino Veldramprojek se ramveiling. Dit sal net na Donderdag se skou-aktiwiteite, om 17:30, plaasvind. Sowat 40 ramme van ’n hoë standaard sal deur Appie Maritz van BKB opgeveil word. Vir meer inligting hieroor, skakel die projekbestuurder, Jako Meyer van Middelburg, by 082 878 5207.

Direk na die ramveiling kan die skougangers oorbeweeg na die moderne skousaal vir die informele BKB Merino Classic-aandfunksie. Merino-skaapvleis sal natuurlik op die spyskaart wees en almal sal die geleentheid kry om lekker te eet en saam te kuier.

Merino SA nooi almal met belang by die Merinobedryf hartlik uit na die 2019 BKB Merino Classic. Navrae kan gerig word aan Merino SA se bestuurder, Danie Vorster, by 082 571 2742 of per epos aan merinosa@eastcape.net. – Persverklaring

Hou die hutsmerk #MerinoClassic op Facebook en Twitter dop vir die jongste nuus.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here