Riglyne vir die voer van kruipvoer aan varkies

47

Die voer van kruipvoer aan klein varkies is ’n gespesialiseerde en gekompliseerde saak. Daar is baie tegnologie beskikbaar en vir ’n produsent om sy pad tussen al die inligting te vind, is nie maklik nie. So sê Dewald Vosloo, voedingskonsultant en besturende direkteur van Saamstaan Voere op Vrede.

Twee denkrigtings bestaan by varkkruipvoer, sê Dewald. Die een staan die byvoeging van antibiotika in die kruipvoerrantsoen voor, terwyl die ander dit vermy.

“Die byvoeg van antibiotika as voorkomende maatreël het die voordeel dat dit die diertjies gesond hou, maar, redeneer die ander groep, as jy dit nie doen nie en die dier word siek, dan reageer daardie dier baie beter op antibiotikabehandeling. Dit gaan dus oor ’n verskil in die benadering tot hoe jy die dier gesond hou.”

Omdat die gebruik van antibiotika in Europa streng beheer word, maak Europese produsente baie van probiotika en essensiële olies gebruik. Daarbenewens gebruik hulle ook organiese sure om ’n ongunstige omgewing vir ongewenste mikrobes in die spysverteringskanaal te skep.

Kruipvoerbeginsels

By klein varkies, sê hy verder, is die twee grootste uitdagings die voorkoming van diarree en die optimale ontwikkeling van die spysverteringskanaal. Dit is op hierdie twee pilare waarop die benadering tot kruipvoer vir varkies rus.

“Die optimale ontwikkeling van die spysverteringstelsel loop natuurlik hand aan hand met die ontwikkeling van die immuunstelsel. ’n Goed-ontwikkelde spysversteringstelsel het ’n besliste positiewe uitwerking op die immuunstelsel.

“Vir die goeie ontwikkeling van die spysverteringstelsel is biesmelk beslis die vertrekpunt. Dit is egter tydens die oorgangsfase van ’n melkgebaseerde dieet na vaste kos, dat diarree maklik kan ontstaan. Hier speel die gebruik van probiotika ’n waardevolle rol.

“Daar is spesifieke areas in die dermkanaal wat saamgestelde limfoïede nodules of Peyer’s patches genoem word. Gewenste mikrobes koloniseer in hierdie areas en hou dan die negatiewe mikrobes onder beheer. Dit is tydens hierdie proses wat probiotika ’n nuttige rol speel,” sê Dewald.

Voordele van kruipvoer

Volgens Francois Coetzee, tegniese adviseur: varke by De Heus op Pietermaritzburg, is daar ’n paar belangrike redes waarom varkies in die kraamhuis reeds kruipvoer gegee kan word. Die eerste is dat varkies met lae vlakke van amilase en hoë vlakke van laktase gebore word.

Hierdie aanvanklike ensiemprofiel help die varkies met die vertering van melkproteïen, maar nie met die vertering van plant- en/of dierlike proteïene wat in volvoere voorkom nie. Aanvullende voeding in die kraamhuis maak voorsiening vir ’n goeie begin met betrekking tot die verandering van hierdie ensiemprofiel.

Die tweede rede is dat sôe se melk en na-speenvoeding albei ’n negatiewe effek op die lengte van die derm-villi het. Hoe vroeër die varkies aan ’n soliede dieet blootgestel word, hoe minder sal diarree en aanpassingsprobleme in ’n latere stadium ontwikkel.

Nog ’n rede vir kruipvoer as aanvulling, is om die aantal onderontwikkelde of wanaangepaste diere in die eerste dae ná speen te verminder. Dit is vir beide die 21-dag- en 28-dag-laktasies voordelig.

“Nog veranderinge wat met speentyd geassosieer word,” verduidelik Francois, “is merkbare veranderinge aan die histologie en biochemie van die dunderm, soos atrofie van die villi en kriptiese hiperplasie, wat verminderde spysvertering en absorpsievermoë veroorsaak en tot na-speen-diarree bydra.

“Om die varkies so vroeg as moontlik aan vaste kos bloot te stel, help hulle om makliker ná speen aan te pas, wanneer hul dieet volledig uit vaste kos bestaan. Navorsing het ook getoon dat die verhoging in kruipvoerinname die voorkoms van diarree ná speen verminder.”

Voerinname

Francois waarsku dat spesiale aandag aan die rol van voerinname (energie) gegee moet word as ’n tussenganger vir die dermstruktuur en -funksie ná speen.

“Daar is egter ook ander invloede,” sê hy, “soos die bron van proteïene wat by die dieet gevoeg word, wat kan wissel met voerinname en wat die dermstruktuur en -funksie kan verander. Dit kan produksie beïnvloed en toekomstige navorsing op hierdie gebied, soos die manipulasie van die onvolwasse spysverteringskanaal met eksogene groeifaktore en/of dieetaanvullings met nie-noodsaaklike aminosure soos glutamien, is nodig.”

Om op ’n vroeë ouderdom te begin vreet is een manier om die oorgang in speentyd te verlig, met minimale prestasieverlies. Kruipvoeding is die ‘kuns’ om vaste kos aan varkies te begin voer terwyl hulle nog aan die sog drink, en sodoende hul spysverteringstelsels vir speentyd voor te berei.

Hoe vroeër die varkies aan ’n soliede dieet blootgestel word, hoe minder sal diarree en aanpassingsprobleme later ontwikkel.

Dit bevorder en ontwikkel die derm- en spysverteringskanale, waardeur die varkie voedingstowwe uit ander voedselbronne as dié van melk kan begin verteer. Dit moedig voedselinname aan, wat een van die grootste uitdagings ná speen is. Kruipvoer word toenemend as belangrik en voordelig geag, aangesien speenouderdom toeneem.

Namate varkies groei, neem hul vereistes vir voedingstowwe toe, tot dit uiteindelik meer is as wat die sog deur haar melk kan voorsien. Dit is omdat melkproduksie op sowat drie weke ’n piek bereik en daarna stadig afneem.

Francois bied die volgende riglyne vir kruipvoeding om voerinname te verbeter:

  • Om die oorgang so glad as moontlik te maak, gee dieselfde kruipvoer voor speen en onmiddellik daarna.
  • Voer goeie gehalte, smaaklike en hoogs verteerbare voer wat varkies smaaklik sal vind.
  • Verseker dat vars water beskikbaar is, aangesien dit voerinname beïnvloed.
  • Pille, en mengsels van pille en meel, is ook baie doeltreffend en veroorsaak gewoonlik minder vermorsing.
  • Hou kruipvoer weg van hoeke, drinkbakke en verhittingslampe om die waarskynlikheid van verrotting te voorkom.
  • Daar sal in elke werpsel varkies wees wat niks vreet nie, selfs al vreet die ander goed. Kyk uit vir hierdie varkies en bestuur hulle versigtig om te verseker dat hulle ook voldoende groei.

Bestuurswenke

Francois gee ook die volgende wenke as basiese bestuursbeginsels van goeie kruipvoervoorsiening:

  • Hou kruipvoer vars en skoon en buite bereik van die sôe.
  • Begin blootstelling aan kruipvoer op drie- tot vyf-dae ouderdom, of volgens die vervaardiger se aanbevelings.
  • Begin deur die kruipvoer op ’n plat oppervlak te sit, byvoorbeeld op ’n vlak skinkbord. Swaar metaal of plastiekbakkies kan aan die kant vashaak.
  • Plaas voerbakke naby aan die varkies, maar nie onder direkte hitte nie, omdat dit die voer se vars smaak beïnvloed. Hou dit ook weg van die ontlastingsareas.
  • Begin met baie klein hoeveelhede voer en vervang dit minstens twee keer per dag, selfs meer indien moontlik. Verwyder altyd alle kruipvoer wat nie gevreet is nie. Slegs afvalkruipvoer sonder medikamente kan aan die sôe gevoer word.
  • Voer kruipvoer terwyl die sôe self vreet, aangesien die varkies dan self aktief is en nie drink nie.
  • Moenie oorvoer nie – voer volgens die varkies se eetlus. Begin met klein hoeveelhede en voer soos die varkie meer vreet.
  • Maak altyd vuil bakke en trôe skoon.

Die sukses van kruipvoeding, sluit hy af, hang van die toegewydheid van die bestuur en personeel af. “Hou altyd die belangrikheid van die sog voor oë. Dit is noodsaaklik om die melkopbrengs te maksimaliseer, aangesien sy die meeste voeding aan die varkies voorsien. Kruipvoer help die derms om te ontwikkel en aan te pas om vaste voer te benut, en het ’n minimale invloed op speengewig.” – Izak Hofmeyer, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Francois Coetzee by 082 503 2998.