“Harde reënbuie is in die somer algemeen in die noordoostelike deel van die Vrystaat waar ek boer. ’n Mens is amper gewaarborg dat daar ten minste een keer per jaar ’n vloed sal wees. Diegene wie se rivieroewers nie gestabiliseer is nie, het ’n goeie kans om erosie te ervaar. Hulle strome en riviere sal gaandeweg dieper en breër wegkalf, met groot grondverliese wat selde werklik gekwantifiseer word.”

Aan die woord is Mike Nicolau, ’n Beefmasterstoetteler op die plaas Brakvlei in die Roadside-omgewing naby Vrede.

Hy meen die enigste manier om erosie natuurlik te bekamp, is deur seker te maak dat die rivieroewers met plantegroei bedek is wat die grond sal stabiliseer.

Waarde van riete

“Riete op die rivieroewers is doeltreffend omdat die vee dit nie eintlik vreet nie. Dit groei dig op mekaar en veroorsaak sodoende ’n doeltreffende buffer teen vloedwater. Verder vorm die wortels ook ’n digte mat onder die grondoppervlakte, wat die grond verder stabiliseer.

“Jong rietgroei aan die begin van die groeiseisoen is wel smaaklik vir veral beeste, so dit is belangrik dat ’n mens jou veldbestuur daarby aanpas. Hou jou rivierkampe dus vir later in die somer, wanneer die rietstingels mooi dik is,” sê hy.

’n Ander belangrike faktor vir hom is dat die voëls wat in die riete broei, eers klaar moet broei voordat hy vee in daardie kampe plaas. Dit beteken sy rivierkampe word hoofsaaklik in die laatherfs en winter benut. Hy probeer seker maak dat die beeste nie die broeiende voëls steur nie.

Stabilisering van suipings

Volgens Mike is dit ’n baie goeie plan om plekke waar die vee in die rivier suip te stabiliseer deur kliptrappe daar te bou, met ’n suipplatform op die watervlak. Dit voorkom dat die diere paadjies uittrap wat tot erosieslote kan lei.

“Die diere sal beslis die maklikste pad af water toe soek. ’n Mens kan mooi sien waar hulle geneig is om teen die walle op en af te loop. Jy moet dié dele dan met klippe stabiliseer om dit vir hulle makliker te maak en om die grond teen erosie te beskerm. ’n Groot voordeel van die klippe is dat die gras tussenin groei om die grond verder te stabiliseer. Die klippe help ook dat die diere nie die gras te kort bewei nie.

“Ek hou daarvan om my suiptoegange op plekke te maak waar daar natuurlike sandbanke in die rivier uitspoel. Die beeste is baie lief om op daardie sandbanke te gaan lê as hulle dikgevreet is.”

Beperk vloedskade

Hulle het aanvanklik riete in die vleie op die plaas uitgehaal en in die rivierlope geplant. Hy kon na die eerste groeiseisoen reeds sien dat die meeste van die riete goed gevestig was.

“Ek het aanvanklik die gevaarkolle in die rivier geïdentifiseer waar ’n vloed skade aan die rivierwal sou veroorsaak. Dit was plekke op draaie waar uitkalwing duidelik sigbaar was, en ook kolle wat deur die vee uitgetrap is. Toe die riete eers daar gevestig is, het dit verder versprei sodat die hele rivier nou riete op die oewers het.”

Hy sê dat ’n tipiese Hoëveldse vloed ongeveer drie dae lank aanhou. Die skade wat dit veroorsaak, is egter vir baie jare daarna nog aanwesig en is in baie gevalle onomkeerbaar.

Versperrings in waterbane

Waterbane het op sommige plekke sleg begin uitkalwe as gevolg van natuurlike oorsake en jarelange oorbeweiding. Hier was Mike se strategie om die water se spoed te probeer breek deur versperrings in die waterbane te plaas.

“Ons het dooie boomstompe dwars in die waterbane gelê en riete op die verspoelde dele geplant. Ons het deur weidingsbestuur toegelaat dat vleigrasse in daardie dele uitgroei en vermeerder. Verder het ons op strategiese plekke klein walle gegooi en die kante van die damme wat so gevorm het, met klippe uitgepak om die grond te stabiliseer.

“Hierdie dammetjies se doel is om die spoed van die water verder te breek. In gevalle waar daar reeds erosie hoër op plaasgevind het, is dit wenslik dat die dammetjies mettertyd toeslik. Maatreëls hoër op is natuurlik belangrik om seker te maak dat die erosie so gou as moontlik gestop word, voordat die slote te diep en groot word.

“Die helling van die spesifieke waterafloop sal bepaal hoeveel en watter tipe versperrings opgerig moet word om die spoed van die afloopwater te breek en riete en ander oewerplantegroei te vestig.”

Mike sê ’n gesonde wortelstelsel is van die uiterste belang. “Ongeag watter weidingstelsel ’n mens gebruik, dit is noodsaaklik dat die plante se wortelstelsels kans kry om te ontwikkel.”

Gebalanseerde ekosisteem

Mike se mikpunt is dat water wat van sy plaas af wegvloei, skoon en helder is. Dit behels aan die een kant dat hy riviere wat deur die plaas loop se oewers moet stabiliseer, maar aan die ander kant moet waterbane wat in die rivier uitmond so stabiel as moontlik wees en alle sediment neergelê word vóór die water in die rivier beland.    

Hy wil met hierdie benadering ’n gebalanseerde ekosisteem skep. “Dit begin by goeie oewer- en veldbestuur, en dan goeie vleilandbestuur, want in dié stelsel sal jou vleilande ’n definitiewe verandering ondergaan.

“Baie mense is versigtig vir vleilande as gevolg van die parasiete daarin wat jou vee kan besmet. As jy egter voorsiening maak vir ’n gesonde ekosisteem en daar genoeg watervoëls en ander waterdiere voorkom, heers daar ’n natuurlike balans en word die besmetting van jou vee al minder.”

Goeie veldbestuur

Dit is vir Mike baie moeilik om reëls oor veldbestuur te maak, aangesien die seisoene en weerstoestande so drasties van mekaar verskil. Hy meen fyn aanvoeling en ’n skerp oog is noodsaaklik vir goeie veldbestuur.

Hy maak gebruik van ’n stelsel waarvolgens ’n derde van sy weiveld elke jaar vir ’n volle groeiseisoen rus. Daardie kampe is dan sy winterweiding, en hy laat die veld straf bewei. Dit bring mee dat goeie saadontkieming in die volgende reënseisoen plaasvind. Dié kampe word dan weer in die herfs bewei sodat die jong gras kans kry om behoorlik te vestig.

Hy is oortuig daarvan dat klimaatsverandering in die toekoms groter eise aan weiveldbestuur gaan stel, en dat boere aan uiterste hitte, droogtes en vloede blootgestel gaan word. In alle gevalle is gesonde veldbestuur van kardinale belang.

“Ek glo die beheer van afloopwater en maksimum infiltrasie van die water in die grond is noodsaaklik vir langtermynoorlewing,” sê hy. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Mike Nicolau by 082 789 2803.