Die Suid Afrikaanse kampioenskap vir Veldmerino’s, die BKB Merino Classic, is vanjaar tydens die 150ste bestaansjaar van die Riversdal-skou op Riversdal gehou. Altesaam 25 telers met 450 Merino’s het in verskillende klasse teen mekaar meegeding.

Sien die volledige uitslae hier.

Volgens Danie Vorster, bestuurder van Merino SA, is dit ’n baie belangrike geleentheid vir die Merinobedryf. “Dit gee aan Merinotelers ’n geleentheid om hul skape ten toon te stel en gee aan ander kleinveeboere die kans om die beste Merino’s in die land te sien.”

Diere van uitstekende gehalte is beoordeel. Roelo van Heerden van die plaas Onderstetuin naby Murraysburg het vanjaar die beste gevaar by die Merino Classic. Sy boerdery het altesaam 16 van die 34 kampioene opgelewer en hy het ook die Veeplaas-trofee vir die teler met die meeste punte ontvang.

Volgens Roelo is die Merino Classic vir hom ’n waardevolle geleentheid om sy diere en teelbeleid teen dié van ander te meet. “So kan ek sien of ek in die regte rigting beweeg en aanpassings maak as dit nodig is.”

’n Eerste vir vanjaar se Merino Classic was die aanwys van vyf ramme in ’n Ambassadeursklas. Dié klas, waartydens die beoordelaars vyf ramme moet identifiseer wat die beeld van die Merino die beste uitdra, word elke jaar tydens die Riversdal-skou aangebied. Dit is ramme wat die beste genetika aan hul nageslag sal oordra en dus die grootste impak sal hê om die ras ekonomies te verbeter.

Koos Geldenhuys van die Geldian-trust in Riversdal sê hulle gee aan die beoordelaars riglyne waarvolgens beoordeel moet word. Dit is bouvorm (goed gevulde boude, goed geplaaste bene en ’n goeie karkas), wol (egalige gehalte met goeie aanvoeling, hantering en stapel), genoeg wol oor die hele lyf (onderlyne ingesluit) en houding (mooi gevormde kop en goed gebalanseerd).

Hy sê hulle beoog om die klas verder uit te brei deur semen van die wenramme gratis beskikbaar te stel aan kuddeboere wat die skou bywoon. – Hugo Lochner, Veeplaas

Sien al die uitslae en hoogtepunte in dié galery:

Alle foto’s is geneem deur Tania Calldo Photography