Die bedryfsliggaam Vinpro, Agri Wes-Kaap, die landboubelangegroep Saai en Wes-Kaapse wynprodusente het verlede week vergader om die uitwerking van die tweede verbod op alkoholverkope op die wynbedyf te bespreek.

Read it in English

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê konstruktiewe gesprekke om die wynbedryf te red en mense se lewensbestaan te beskerm, is uiters belangrik. Hy sê die verbod hou ‘n potensiële ramp vir dié belangrike landbousektor in en dat die belange van primêre produsente en die wynwaardeketting ten alle koste beskerm moet word.

Familieboerderye en werksgeleenthede op die spel

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê familieboere is die mees kwesbare belanghebbendes in die waardeketting wat deur die verbod op verkope van wyn geaffekteer word. Hy sê ‘n verdere blokkade in hulle bemarkingskanale kan ‘n rampspoedige impak hê. “Wyn- en druiweprodusente verteenwoordig sommige van die oudste familieplase in Suid-Afrika,” sê hy.

Rico Basson, uitvoerende direkteur van Vinpro, sê in die afgelope 14 weke het die bedryf ‘n inkomsteverlies van R4,5 miljard gely. Hy meen werksverliese as gevolg van die COVID-19-regulasies het reeds voorgekom, en na raming kan nog 18 000 werksgeleenthede in die slag bly.

“Vermenigvuldig 18 000 werkers met vyf afhanklikes elk, dan kyk ons na amper 100 000 mense wat algehele armoede in die gesig staar,” het Basson gesê. – Persverklaring, Vinpro, Agri Wes-Kaap en Saai