Vanjaar is ’n belangrike jaar vir Bonsmara SA. Nie net word ’n selfs groter en beter Dié Rooi Ras-geleentheid en nasionale veiling van vroulike diere as tevore in Parys gehou nie, maar die genootskap vier ook sy 55ste bestaansjaar.

In dié 55 jaar het die Bonsmara-ras een van die grootste beesrasse in Suid-Afrika geword. Volgens Louis Steyl, rasadviseur by Bonsmara SA, kan die ras se vordering in dié relatiewe kort tydperk hoofsaaklik toegeskryf word aan die verpligte prestasietoetsingstelsel. “Dit bied natuurlik ’n sinvolle hulpmiddel vir die seleksie van diere en verseker saam met die ras se streng keuringstelsel dat diere van die hoogste genetiese gehalte is.”

Die stelsel plaas die fokus op funksioneel doeltreffende diere, wat verseker dat die wetenskap en praktyk in Bonsmaraboerdery bymekaargebring word.

Vorentoe met tegnologie

Louis is oortuig dat die toekoms net blink dinge vir die ras inhou. “Ons doelwit is om op die voorpunt van tegnologie te bly. As ons dit kan regkry, glo ek die ras sal net vorentoe beweeg.” Een van die maniere waarop die genootskap reeds tegnologie prioritiseer, is ten opsigte van genomika. “Ons het die afgelope twee jaar baie aandag daaraan geskenk om genomika vir Bonsmaratelers te laat werk.”

Twee jaar gelede het Bonsmara SA die voortou in die Suid-Afrikaanse veebedryf geneem met die vrystelling van genomiese teelwaardes vir vleisbeeste in Afrika. “Die reeds bestaande Bonsmarastelsel bied die perfekte grondslag vir die toepassing van die wetenskap van genomika in veeteelt,” sê Louis.

Dié genomiese teelwaardes is al deur verskeie telers in seleksiebesluite en die toets van teeldiere ingespan. Dit het ’n groot impak op die gehalte van diere en, as ’n resultaat hiervan, doeltreffendheid in kommersiële stelsels gehad.

Die Rooi Ras-geleentheid

Bonsmara SA se Dié Rooi Ras-geleentheid word jaarliks gehou. Vanjaar se geleentheid gaan in die lig van die verjaardagviering baie spesiaal wees. Dit vind op 13 Maart 2019 by die Afridome in Parys plaas en sal om 08:00 afskop.

“Dit is vir ons belangrik om elke jaar die beste sprekers by die geleentheid te hê om hulle kennis te deel. Ons glo gedeelde kennis is noodsaaklik vir enige bedryf om vorentoe te beweeg. Dit is waarom ’n geleentheid soos dié baie belangrik is. Die kennis wat gedeel word, moet ook wyer as net beesboerdery strek – ons boer mos nie in silo’s nie,” sê Louis.

Drie bekende rolspelers in landbou en ekonomie is vanjaar se bronne van kennis. Dit is Theo Venter, hoof uitvoerende beampte van Galileo Capital, Nick Serfontein van die Sernick Groep en Wandile Sihlobo van Agbiz.

“Theo en Wandile gaan vir ons duidelikheid gee oor onderskeidelik die politiek en ekonomie. Dit word vir landbouers al belangriker om hulself van die politieke en ekonomiese klimaat te vergewis. Theo en Wandile gaan dié twee ingewikkelde onderwerpe op ’n verteerbare wyse aanbied.”

Nick Serfontein is een van die bekendste Bonsmaratelers in die land en speel toenemend ’n rol in die groter landbou-omgewing. Die Sernick Groep doen belangrike werk vir landboutransformasie, asook navorsing in landbou. Nick gaan vanjaar se Dié Rooi Ras-geleentheid open.

Nasionale veiling van vroulike diere

Bonsmara SA bied elke jaar ook sy nasionale veiling van vroulike diere saam met Dié Rooi Ras-geleentheid aan. Op Woensdag, 13 Maart 2019, is dit weer die geval. “Daar is nie nog ’n veiling waar jy so ’n groot verskeidenheid vroulike Bonsmaragenetika bymekaar het om uit te kies en te keur nie. Telers van regoor die land bring van hulle beste koeie en dragtige verse om onder die hamer te kom,” sê Louis.

Die belofte van top vroulike diere is beslis nie ’n leë belofte nie. Volgens Louis is seleksie vir dié veiling baie streng. “Jy kan dus gerus wees dat die diere wat op die veiling aangebied word, funksioneel doeltreffend is en vir jou boerdery geskik sal wees.”

Klik hier vir vanjaar se veilingskatalogus.

Vir meer inligting oor die veiling of Rooi Ras-geleentheid, kontak Evelene Strydom by 051 448 6084 of 082 929 9545. Besoek ook www.bonsmarasa.vo.za vir meer inligting. – Marike Brits, AgriOrbit

Volg die hutsmerk #RooiRas2019 om op hoogte van sake te bly.

Klik hier vir meer oor vandeesmaand se uitgawe van Dié Rooi Ras.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here