“Die rooigras het vanjaar glad nie saad gemaak nie,” het Cas Human van die Van Reenen-omgewing ’n paar maande gelede gesê. Die bekende stoetteler, Arthur de Villiers, het dié stelling kort daarna by ’n boeredag beaam: Daar waar hy tussen Memel en Vrede in die Vrystaat boer, het die rooigras ook nie saad gemaak nie.

Veeplaas het by Rick Dillon van Waterfall Farm naby Van Reenen gaan aanklop. Rick het destyds sy M-verhandeling onder prof Neil Tainton spesifiek oor rooigras gedoen en ons het gehoop dat hy dalk antwoorde het.

Rick het hier grootgeword en was vir etlike jare ’n landbouvoorligter op Harrismith. Hy het ’n groot passie vir die omgewing en was die voorbok met die stigting van ’n bewaringsgebied van 60 000ha op die platorand by Van Reenen.

Regeneratiewe landbou

Volgens Rick is daar verskeie moontlike redes waarom die rooigras nie saad gemaak het nie, maar die blote waarneming daarvan dwing hom om eers ’n paar opmerkings te maak oor die konsep van regeneratiewe landbou, wat al hoe meer prominent in die saaibedryf raak.

Die eerste punt wat hy maak, is dat rooigras al vir dekades onder enorme druk verkeer weens beweidings- en bestuuurspraktyke wat algemeen in die streek toegepas word.

“As ons 50 tot 100 jaar teruggaan in die geskiedenis, hoor ons die uitdrukking dat stukke veld ‘soetgetrap’ is. Hierdie dele vertoon wit in die winter, teenoor die rooierige kleur wat rooigras het. Hierdie soetgetrapte dele is gewoonlik ou lande, plekke waar vee oornag het of oorbeweide dele. In kort, die veld is drasties beskadig. As ’n mens vandag na die winterveld kyk, is die wit dele baie groter as die rooi dele. Rooigras behoort eintlik 75% van die veld te verteenwoordig.”

Invloed van brande

Sy tweede punt is dat brande ’n reuse uitwerking op die veld het. Waar brande in die natuur veral in die laatsomer en vroeë lente voorgekom het as die weerlig die veld aan die brand gesteek het, en daardie vure kol-kol die veld afgebrand het, is die situasie tans heel anders.

“Boere brand nou elke jaar hulle veld af om die vroeë groenigheid, bekend as die ‘spring flush’, te benut. Die veld kry dus nie werklik kans om organiese materiaal op te bou nie. Dit lei tot ernstige erosie, ’n onvermoë tot waterinfiltrasie en veldagteruitgang.”

Die derde punt wat Rick beklemtoon, is dat die gebruik van ureum ’n totale rewolusie in die benutting van suurvelddele op die Hoëveld meegebring het.  

Individuele polle met groot stukke kaal grond tussenin. Hierdie gebrande veld is duidelik nie in ‘n goeie toestand nie.

“Waar boere tradisioneel in die winter na soeter dele moes trek omdat hierdie veld nie die diere deur die winter kon onderhou nie, het ureum dit moontlik gemaak om ook hier te oorwinter. Vee kon nou droë, onsmaaklike gras in die winter benut. Dit het egter groter druk op die rooigras geplaas.

“Nou het daar skielik ’n situasie ontstaan waar die rooigras nie net gebrand is nie, maar ook strawwer bewei is. Die uitwerking was dat veld aaneenlopend benut is, waar die boere tradisioneel in die winter met hul vee afgetrek het Natal toe.”

Aard van die rooigraspol

’n Vierde faktor wat hy uitlig, het te doen met die aard van die rooigraspol. “Waar ander grasspesies in die omgewing hulle groeipunte onder die grond het, het rooigras sy groeipunt in die pol, maar bo die grond. Dit beteken dat ’n intense vuur of selfs intense ryp die groeipunt kan vernietig,” verduidelik hy.

Om dus by ’n antwoord uit te kom oor waarom die rooigras nie vanjaar saad gemaak het nie, sê hy, kan daar etlike verduidelikings wees. Dit kan aan die een kant ’n intense vuur wees, of aan die ander kant intense ryp laat in die lente. Beide hierdie verskynsels sal egter waarskynlik gelokaliseer wees.

“Dit is heeltemal moontlik dat die droogte wat eers teen Januarie vanjaar gebreek is, veroorsaak het dat die groeiseisoen bloot te kort geraak het vir die gras om deur sy normale fisiologiese siklus te beweeg.”

’n Duidelike wekroep

Rick meen die feit dat die rooigras nie saad gemaak het nie, is nie die resultaat van klimaatsverandering nie. “Talle ander faktore kan tot dié verskynsel aanleiding gee. Dit behoort vir ons ’n wekroep te wees om ’n baie deeglike bestekopname van ons veld te doen om te kyk in watter toestand dit is.

“Klimaatsverandering is ’n realiteit, en die uitwerking daarvan gaan drasties wees. Ons moet dus seker maak ons het al die wapens in ons arsenaal om dit die hoof te bied, en gesonde veld is ’n baie belangrike wapen.”

Let op die graspol op sy ‘grondverhogie’, met die vlak van die kaal grond aansienlik laer. Dit dui op erosie en grondverswakking.

Volgens Rick skort iets drasties met die veld as ’n mens elke nou en dan skeeftrap op ’n pol, of jou perd gereeld oor ongelyk polle struikel. “Die polle groei op ’n ‘grondverhogie’ en die grondvlak is aansienlik laer tussen die polle. Dit dui op erosie en ’n lae persentasie organiese materiaal.

“Hierdie grondverhogies merk die oorspronklike vlak van die grond. Dit is egter besig om geleidelik weg te waai en weg te spoel. Elke brand wat deurkom, verwyder die organiese materiaal wat kon help om erosie te beperk. Dit verlaag ook vogindringing drasties deurdat die reëndruppels wegspoel en nie die grondoppervlakte binnedring nie.”

Belangrike vrae

Rick sê ’n mens moet die volgende vier vrae in die konteks van gesonde veld vra:

  • Is daar kaal grond tussen die graspolle?
  • Staan die graspolle op verhogies?
  • Maak die gras saad?
  • Is daar ’n mat organiese materiaal tussen die graspolle?

“Hierdie vier vrae lei ’n mens as’t ware na wat jou mikpunte vir gesonde veld moet wees. Dit is eerstens om soveel as moontlik organiese materiaal op die grond tussen die graspolle te hê, tweedens dat meer rooigrassaad op die grond moet beland en derdens die afwesigheid van verhogies onder elke graspol,” verduidelik hy.

Rick glo dat grasboere deeglik moet kennis neem van regeneratiewe landbou. “Dit is nodig om bestaande bestuurspraktyke deeglik te bestudeer en dit te beoordeel volgens hoe die veld oor ’n sekere tydperk daarop gereageer het.”

Pilare van regenerasie

In die saaibedryf is van die pilare waarop die benadering tot regenerasie staan, onder andere ’n deklaag organiese materiaal op die grond, lewende wortels in die grond elke dag van die jaar en die uitwerking van vee op die grond. Dit sluit in die hersirkulering van mis en urine, asook die trapeffek van hoewe wat die verdigtingslae op die grond opbreek. Hierdie mikpunte is ewe toepaslik in die veld. Die einddoel is die opbou van koolstof in die grond, wat die waterhouvermoë verbeter en potensiaal verhoog.

“Hoewel ek nie werklik ’n antwoord het op die vraag waarom die rooigras nie saad gemaak het nie, is ek oortuig daarvan dat dit vir ons as ’n waarskuwing moet dien oor hoe ons die veld bestuur en ‘bemagtig’ om die uitdagings van klimaatsverandering die hoof te bied,” sê hy. – Izak Hofmeyr, Veeplaas