Rooiluise in skape: ’n Oorsaak van swak wolproduksie en -gehalte

0
404

Artikel verskaf deur Afrivet

Rooiluise (Bovicola ovis) is ’n parasietprobleem by skape wat skade aan wol se gehalte en hoeveelheid kan veroorsaak indien dit nie in ’n kudde gediagnoseer word nie.

Die rooiluis is ongeveer 2mm groot, rooibruin en kom meestal op die rug en sye op ’n hoogte van sowat 6mm in die wol voor. Die luis is van die bytende tipe en teer op velselle en -afskeidings. Oordrag vind plaas met direkte kontak tussen diere.

Die parasiete kan nie lank van die gasheer af oorleef nie. Hulle verkies temperature tussen 33 tot 39°C en kan self die temperatuur reguleer deur hoër of laer teen die wol op te beweeg. Die luis kan nie in hoë temperature oorleef en voortplant nie. Dus word groter getalle in die koeler wintermaande aangetref.

Tekens van besmetting

Die luis veroorsaak ’n immuunreaksie in ’n skaap se vel wat ’n gejeuk veroorsaak – dus byt, krap en skuur skape hulself. Dit het laer wolgehalte tot gevolg omdat die wol breek, uitgetrek word, saamkoek en soms verkleur. Knopperige letsels vorm ook op die velle.

Daar moet noue kontak tussen skape wees vir oordrag om plaas te vind – die luis kan nie self oor afstande versprei nie. Faktore om in ag te neem, is byvoorbeeld wanneer nuwe skape by die kudde gevoeg word of ’n skaap afdwaal en met ander troppe in aanraking kom. Die luis kom meer algemeen op lammers voor en kan dus behandelde ooie herbesmet.

Die luis beweeg na die oppervlak van die wol onder ideale omgewingstoestande – ’n warm, vogtige skadu-omgewing, soos wat byvoorbeeld optimaal gevind word wanneer skape in ’n skuur gehou word, is ideaal. Die luis skuil in warm, sonnige weer, baie koue weer en reënweer diep in die wol, naby aan die lyf.

Invloed van warmer weer

Die skeer van skape wanneer die weer warmer word, dra by tot die beheer van rooiluise, aangesien die hoër seisoenale temperatuur tesame met die groter blootstelling aan bestraling hul voortplanting en oorlewing inhibeer.

Rooiluise was in die verlede nie so ’n algemene probleem nie, want die verpligte beheer van die brandsiektemyt met dip het tot gevolg gehad dat dié luise ook outomaties onder beheer gehou is. Die probleem steek nou al hoe meer kop uit en kan vir ’n geruime tyd ongesiens voortduur terwyl produksie negatief beïnvloed word.

Tabel 1: Die invloed van rooiluise op produksie.

Gehalte Uitwerking
Vaggehalte Verminder met sowat R49 tot R310.
Skoon vaggewig Verminder met 0,2 tot 0,9kg.
Opbrengs Verminder met 2,6 tot 6%.
Wolkleur Meer geel en dof.
Vesellengte Matige afname.
Treksterkte Moontlike afname.
Velgehalte Soms ’n afname.

So min as 5 000 luise per skaap kan tot ’n verlaging van 5% in die wolwaarde tot gevolg hê en 25 000 luise tot soveel as 20%.

Goeie biosekuriteit

’n Basiese faktor om op te konsentreer, is die toepassing van goeie biosekuriteit deur die instandhouding van heinings, goeie higiëne van skeerders en hul toerusting, asook die toepas van kwarantyn op nuwe skape.

Jaarlikse dip ná skeertyd en/of dip vir die voorkoming van skaapbrandsiekte sal besmettings voorkom, mits biosekuriteit op die plaas behoorlik toegepas word.

Omdat die luis nie van die suigende tipe (soos die Linognathus sp) is nie, werk inspuitbare makrosikliese laktone nie vir die beheer van rooiluise nie. Dompeling-, spuit- of opgietmiddels moet gebruik word. Aktiewe bestanddele wat luise teiken, is organofosfate, piretroïde, makrosikliese laktone en insekgroeireguleerders.

Dipbehandeling ná skeertyd

’n Dipbehandeling van skape en bokke ná skeertyd sal die toestand bekamp en sal voorkom dat diere behandel moet word wanneer hul wol of vag lank is. Dipbehandeling is doeltreffender ná skeertyd omdat skeer die nete (eiers) help verwyder. Behandeling met organofosfaat- en piretroïeddippe is baie doeltreffend as dit korrek gedoen word en binne tien tot 14 dae herhaal word.

Opgietmiddels kan by skape gebruik word wat nie gedip kan word nie. Omdat die wolindringing en verspreiding van die opgietmiddel minder doeltreffend is met ’n lang, dik vag, word die gebruik van ’n hoëvloei-aanwender voorgestel. Die toediening van opgietmiddels ten minste ses weke voor lamtyd word ook voorgestel om te verseker dat luisoordrag tussen die ooi en lam nie plaasvind nie.

Elke skaap moet behandel word, hetsy die dip- of opgietmetode gebruik word. As een skaap oorgeslaan word, sal dié dier weer die bron van besmetting wees vir die behandelde skape.

Skaapbrandsiektemyte en enige toestande wat ’n gejeuk by skape veroorsaak, is volgens die Dieresiektewet, 1984 (Wet 35 van 1984) ’n aanmeldbare siekte. Dus is dit belangrik dat ’n veearts die diagnose bevestig voordat behandeling toegepas word.

Vir bronverwysings of meer inligting, skakel gerus ’n Afrivet-agent of laai die Afrivet-toepassing af. Skakel alternatiewelik 012 817 9060 of 0860 VEEARTS, of besoek die webtuiste www.afrivet.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here