Die rooivleisbedryf se aansoek vir die 2020/21 statutêre heffing, het tydens die Rooivleis-abattoirvereniging (RAV) se onlangse konferensie en kongres, wat buite Stellenbosch aangebied is, onder die soeklig gekom.

Vereniging bevestig deelname

Daar is besluit dat die RAV wel sal deelneem aan die proses om die nuwe heffing te finaliseer. Die aansoek moet teen November 2019 gefinaliseer wees vir aanbeveling aan die Nasionale Bemarkingsraad, met die doel om die nuwe heffing teen November 2020 te implementeer.

Die volgende ses funksies is as die breë beginsels van die toekomstige heffing geïdentifiseer:
  • Verbruikersgemoedsrus en -inligting.
  • Besigheidsintelligensie.
  • Besigheids-/bedryfsontwikkeling.
  • Navorsing en ontwikkeling.
  • Transformasie

Wins en kontantvloei onder druk

Tydens die konferensie het Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), die produsent se perspektief op die statutêre heffing toegelig.

Hy het gesê ingevolge die huidige bedeling, is geen rolspeler in die rooivleiswaardeketting daartoe in staat om ‘n wins te maak nie. Wins en kontantvloei is onder groot druk.

“Ons moet hoër winsmarges in die waardeketting behaal. Dit moet die gemeenskaplike doel van ‘n toekomstige heffing wees. Met ander woorde, hoër marges vir die hele bedryf.”

Die rooivleisprodusent is die sleutel

Van der Ryst het daarop gewys dat die hele proses by die rooivleisprodusent begin.

“Daar is geleenthede om beter marges moontlik te maak, maar befondsing word benodig om die bedryf vorentoe te vat. Sekere intervensies moet dus plaasvind en dié intervensies moet by wyse van ‘n heffing gefinansier word. Verder moet intervensies gemeet kan word. Ons wil die bewyse van vordering sien en daar moet goeie opbrengste met ons beleggings behaal word. Dit sluit uitvoermarkte in.”

Dieregesondheid is uiters belangrik

Van der Ryst het gesê dieregesondheid en naspeurbaarheid is van kardinale belang om die volhoubare voorsiening van rooivleis moontlik te maak. Beide dié aspekte is deurslaggewend.

Die rooivleisbedryf moet die beheer van dieregesondheidsaangeleenthede oorneem met behulp van private/openbare vennootskappe met die regering. “Die regering het nie die kapasiteit om dieregesondheid in stand te hou of die verbruiker daarvan te verseker dat sy/haar vleis veilig vir gebruik is nie. Ons versoek die regering om die rooivleisbedryf in dié verband te ondersteun, deur die betrokke wetgewing toe te pas.”

Doel van die statutêre heffing

Die nuutgevormde primêre groepering bestaan uit al die organisasies wat primêre rolspelers in die bedryf is, naamlik die RPO, die Nasionale Opkomende Rooivleisprodusente-organisasie (NERPO), die SA Voerkraalvereniging (SAFA) en die RAV.

Van der Ryst het ook genoem dat dit belangrik is om die eerste klein treetjies te neem. Rooivleisprodusente het ‘n mandaat om die huidige heffing te verdubbel indien nodig, op voorwaarde dat dit in lyn met die RPO se vyf-jaar strategiese plan is.

Hy het die situasie in perspektief geplaas deur daarop te wys dat die huidige statutêre heffing slegs 0,05% van die omset in die primêre sektor beloop.

Die statutêre heffing moet bekostigbaar wees, vordering moet meetbaar wees en ‘n regverdige opbrengs met beleggings moet behaal word. Heffings moet as ‘n belegging beskou word en nie as ‘n uitgawe nie,het hy gesê. – RPO