Al die vertakkings van die rooivleisbedryf het besluit om saam in die voorry van die skrum teen bek-en-klouseer te sak. Daar bestaan kommer dat dit nie die laaste uitbreking van dié gevreesde siekte, wat die bedryf onberekenbare skade berokken, gaan wees nie. Daarom moet geleer word uit die foute wat met die uitbreking aan die begin van die jaar in die noorde van Limpopo gemaak is.

Volgens alle aanduidings was die uitbreking teen die einde van Februarie onder beheer, maar druk op die beloofde samewerking is nou groot om praktiese probleme op grondvlak, soos die bemarking van ingeënte diere, sinvol opgelos te kry.

Volgens Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Dieregesondheidsforum in Limpopo, word ’n beroep op alle produsente en owerhede gedoen om ’n naspeurbaarheidstelsel vir vee te vestig. “Op dié manier kan ’n stelsel van selfregulering in werking tree, wat sal voorkom dat in die toekoms weer so in die donker rondgetas word soos met die huidige uitbreking. So ’n stelsel is ontwikkel, maar as gevolg van min belangstelling kom dit nie van die grond af nie.

“Veeboere moet die bedryf se toekoms in hul eie hande neem, in die bedryf belê en by amptelike organisasies aansluit om so deel te word van die soeke na ’n oplossing, sodat ’n ramp die bedryf nie tref en op sy knieë dwing nie.”

‘n Risiko vir die totale bedryf

Meer as 160 produsente en ander belangstellendes het by ’n inligtingsdag in Louis Trichardt (Makhado) opgedaag, wat aan die een kant gewys het daar is baie vrae, en aan die ander kant dat boere besef dat dit nou noodsaaklik is om saam te werk om die bedryf te beskerm.

Wanneer bek-en-klouseer uitbreek, tref dit nie net die spesifieke streek nie. Dit hou ’n risiko vir die hele landbousektor en veral die nasionale rooivleisbedryf in.

Dit was uit vrae van die gehoor duidelik dat groot kommer heers oor die swak beheer van internasionale grense, sowel as die sogenaamde rooi en groen lyn wat buffers vorm om die verspreiding van siektes na die algemene landbougebiede te stuit. Daar is bitter min beheer om die beweging van vee oor dié lyne te verhoed of te beheer. Sommige boere meen meer permanente beheerpunte op roetes oor dié lyne is nodig.

Groot terugslag

Dr Pieter Vervoort, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum, sê die uitbreking buite die beheerde en buffergebied was ’n slag vir die bedryf. “Dit het die land se vermoë om in internasionale handel mee te ding, geknou. Die goeie nuus is dat die uitbreking betreklik maklik beheer kon word, vinnige optrede die verspreiding daarvan beperk het, en dat daar goeie samewerking van die boeregemeenskap was.

“Wat vir die toekoms nodig is, is ’n omvattende strategie waarin die Nasionale en Provinsiale Departement van Landbou van die hele land, die bedryf en ondersteuningsdienste soos die polisie, verkeersowerhede, rampbestuursgroepe, die Weermag en voorligtingsdienste onbevooroordeeld saamwerk.

“Almal kan nie die siekte op grondvlak beveg nie, maar almal kan die professionele spanne wat dit doen, bystaan en ondersteun. Gekombineerde bronne is nou nodig om die oogmerke wat geïdentifiseer word, geslaagd te bereik,” verduidelik hy.

Wetlike verpligting

’n Produsent is volgens wet verplig om dit aan te meld as hy vermoed die siekte het onder sy vee uitgebreek. As hy dit nie doen nie, pleeg hy ’n misdaad en kan hy vervolg word.

In die vroeë stadium van die siekte is daar dikwels geen simptome nie. Kliniese simptome is koors, sere in die bek en tussen die kloue, slym loop by diere se bekke uit, en hulle is lusteloos en lam.

Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie, sê kodes van beste praktyke is opgestel. “Kommersiële sowel as ontluikende boere moet met voorligting en inligting bemagtig word om internasionale mededingendheid te bevorder. Produsente moet meer in hul eie bedryf belê, die volgende fase van statutêre heffings moet gefinaliseer word en die bedryf moet die toekoms in sy eie hande neem om sy doelwitte te bereik.”

Vir meer inligting, kontak Willem van Jaarsveld by 082 451 7913 of info@limag.co.za.

Bek-en-klouseer is op ons voorstoep

Beter stelsels nodig vir bek-en-klouseer

Bek-en-klouseer-taakspanne geskep

Bek-en-klouseer: Is die grense oop of toe?

FMD spill over contained

Wat weet ons van die bek-en-klouseer beskermingsone?

Die nadraai van die bek-en-klouseer-uitbreking

Bek-en-klouseer beperk uitvoer van huide en velle

Wol-uitvoere na China gestop

Sybokhaar-uitvoere na China gaan voort

Lessons from Namibia on curbing the spread of FMD

The causes of foot problems in cattle