Nico Groenewald van Standard Bank, Andries Motloung, hanteerder, Andrew Masterson, beoordelaar, Jaco Herbst van Vereeniging, gouebekerwenner in die suiwelafdeling, en Mike Moncur, president van die Royal Agricultural Society.

Die Royal-skou in Pietermaritzburg word allerweë as een van die beste landbouskoue in die land beskou, en vanjaar was geen uitsondering nie. Volgens die beoordelaars van klein- en grootvee, en nou ook konyne, was die standaard van inskrywings vanjaar weer uit die boonste rakke. Die vetvee- en karkaskompetisie verleen verdere glans aan die skou, en inskrywings kom van letterlik regoor die land om aan dié prestige kompetisie deel te neem.

Beeste

Llewellyn Angus van Arlington was vanjaar die hoofbeoordelaar in die interraskampioenskap. Volgens hom was dit opmerklik dat die interraswenners oor ’n verskeidenheid rasse versprei was, sonder dat een ras oorheers het.

In die groepklasse het die Simmentalers die groep van tien gewen, terwyl die Brahmane ook besonder goed gevaar het. Verder het die Angus en Braunvieh as groepwenners na vore getree.

In die individuele klasse het ’n uitsonderlike Simmentaler-koei van 8,8 jaar oud, wat reeds sewe keer gekalf het, die superkoei-titel gewen. Sy behoort aan Jamie Berger en Marius Nel van Coligny in Noordwes. ’n Swart Angus-bul van Colin Emanuel van Mooirivier is as die Landbouweekblad Breedplan Zoetis bul van die jaar aangewys. Llewellyn sê hierdie bul is besonder goed gebalanseer met uitstekende dybespiering. Die junior kampioen manlike en vroulike paar is deur John Devonport se Limousins gewen, en die paar het uitstekend by mekaar gepas.

Die bulwenner van die goue beker was ’n baie korrekte, manlike en goed-bespierde grys Brahman van Linde du Plessis van Fouriesburg, terwyl die goue beker vir vroulike diere aan ’n besonderse Simmentaler-koei gegaan het wat aan Piet Oelofse van Lichtenburg behoort. Sy is die weerspieëling van vroulikheid en hoë gehalte, met ’n uitstekende uier. Hierdie koei is ook onlangs by die Nampo-oesdag as interraskampioen aangewys.

Die bul- en koei-reserwekampioene was uitstaande Braunviehs wat aan Gawie Naudé van Barkly-Oos behoort. Die goue beker in die suiwelafdeling het gegaan aan ’n Holstein-koei van Jaco Herbst van Vereeniging.

Kleinvee

Jan de Jong en Angus Williamson het die skape beoordeel, en volgens Jan was die standaard weer uitstaande. Altesaam vyf skaaprasse, naamlik die Dorper, Dormer, Suffolk, Hampshire Down en Ile de France, is verteenwoordig. Die Hampshire Down het ook hul nasionale kampioenskap tydens die skou aangebied. Jan sê die bokafdeling was eweneens van uitstekende gehalte.

Die goue beker vir ramme is deur ’n Ile de France gewen wat aan Corné Els se Janco-stoet by Amersfoort behoort. Hy is ’n besonder goed gebalanseerde ram met uitstekende lengte, breedte en diepte, en is besonder sterk op sy bene. Sy vaar was verlede jaar die gouebekerwenner. ’n Dormer-ram het tweede gekom.

Wat die ooie betref, het ’n Dormer-ooi van Twee Broers Dormers by Barkly-Oos die goue beker gewen, gevolg deur ’n Hampshire Down-ooi van Russell Shorten van Aliwal-Noord.

Konyne

Meer as 400 konyne van 27 uitstallers was vanjaar op die skou. Derek Medlock van Brittanje was die beoordelaar. Volgens Judy Stuart van die Natalse Konynklub het hy die Chinchilla Giganta-konyne as die beste beskou wat hy die afgelope twee dekades op enige plek in die wêreld gesien het. Die interraskampioen was ’n pragtige jong Silwervos-konyn, wat aan Linda Bainy van Hammarsdale behoort. – Izak Hofmeyr, Veeplaas