“Die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) verwelkom die opheffing van die verbod op die hou van veilings en skoue met onmiddellike effek, soos deur die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling aangekondig. Die RPO het baie hard saam met die departement en die bedryf gewerk om dit te bewerkstellig.”

So sê Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, in ‘n verklaring wat die organisasie kort na die departement se aankondiging op 17 Februarie uitgereik het.

Volgens Van der Ryst was dit ‘n uiters drastiese maatreël wat ‘n negatiewe impak op produsente en die bedryf gehad het. Hy is dit egter eens dat dit ook vrugte afgewerp het, aangesien Suid-Afrika se belangrikste uitvoermarkte ten spyte van die verlies van sy bek-en-klouseer-vrye-sonestatus, weer geopen is. Hy het die hervatting van handel met China as voorbeeld gebruik.

Registrasie van veilingsagente by APAC

Die RPO verwelkom die feit dat veilingsagente nou by die Landbouprodukte-agenteraad (APAC) moet registreer. APAC is in 1992 ingevolge Wet 12 van 1992 gestig en die afdwinging van die wet is volgens hom van kardinale belang. Die RPO moedig alle agente aan om die stap te neem.


“Selfregulering in die rooivleisbedryf het nou uiters belangrik geword indien ons die rooivleisbedryf en sy markte wil beskerm. Elke produsent in die land moet ons hiermee help,” het Van der Ryst voorts gesê.

Maatreëls vir komende veilings

Dit sluit in die daarstel van ‘n vrywillige naspeurbaarheidstelsel wat deur die bedryf in oorleg met LITS-SA geïmplementeer sal word. Artikels 6 en 8 van die Veediefstalwet kan onmiddellik van toepassing wees op veilings sowel as dieregesondheidsverklarings.

Die bedryf het reeds in samewerking met die RPO maatreëls daargestel wat behoort te geld wanneer veilings in die toekoms gehou word. Hierdie maatreëls sal eersdaags aangekondig word en met verloop van tyd deur die Registrateur van Landbouprodukte-agente geïmplementeer word.

Dit is ook noodsaaklik dat beheermaatreëls vir bek-en-klouseer opgeskerp word in die drie provinsies wat as buffersones vir die bekamping van bek-en-klouseer dien. Die geaffekteerde fasiliteite waar uitbrekings voorgekom het, moet nou doeltreffend bestuur word ten einde die probleem op te los.

‘n Dure les

“Ons het almal lesse geleer uit dit wat nou gebeur het,” het Van der Ryst gesê. “Produsente sal voortaan self baie meer verantwoordelikheid moet aanvaar om beheerde en aanmeldbare siektes op hul plase te voorkom. Die RPO se Kode van Beste Praktyk gee spesifieke riglyne in dié verband.” – Persverklaring