Die heel eerste Massey Ferguson-produk is in 1946 in Suid-Afrika verkoop. Hierdie bekende handelsnaam is deel van die AGCO Corporation-stal en in Woensdag se RSG Landbou gesels die hoofbestuurder, dr Dominik Reus, oor hulle voetspoor in Afrika. Luister nou na hierdie onderhoud.

Natuurlike weidings verskil van streek tot streek – in somerreënvalgebiede tydens die wintermaande bestaan die veld meestal uit genoegsame plantmateriaal, hetsy dit ‘n goeie reënseisoen was. Die droë plantmateriaal bo die grond tydens die wintermaande bestaan hoofsaaklik uit strukturele koolhidrate, wat swak verteerbaar is en laag is in voedingswaarde (o.a. ru-proteïene en energie). Met die eerste goeie reën van die nuwe reënseisoen begin die veld verander van winterveld na somerveld. Wat presies behels die verandering in die veld? Evan Macdonald van Nutri Feeds verduidelik in RSG Landbou watter uitdagings die veranderinge inhou. Luister nou na hierdie onderhoud.

Die gelyktydige bestuur van ’n hamelkomponent en ’n ooiboerdery kan ’n versoenbare besigheid met indrukwekkende dividende oplewer. Daarmee saam is die wol- en vleisverhouding ’n bepalende faktor in die winsgewendheid van die besigheid. Om die legkaart van ’n ekonomiese skaapboerdery beter te begryp, het RSG Landbou by ‘n kenner op die gebied gaan aanklop. Frikkie Strauss van BKB gesels oor die voordele en die belangrikheid van ‘n hamelboerdery. Luister nou na hierdie onderhoud.

Die derde wolveiling van die 2020/21-seisoen het onlangs na ‘n breuk in die veilingskalender plaasgevind. Van die 10 152 bale wat aangebied was, is 638 bale voor die veiling en ’n verdere 715 bale gedurende die veiling onttrek, as gevolg van die negatiewe marksentiment in Australië. Die Australiese mark het gedurende die afgelope twee opeenvolgende weke met onderskeidelik 1,7% en 7,6% gedaal. Soos oudergewoonte bring RSG Landbou die volledige wolkmarkverslag. Luister nou hierna.

Luister hier na nog RSG Landbou-onderhoude.

RSG Landbou word dié week aan jou gebring deur AGCO.

RSG Landbou is ’n Afrikaanse algemene landbouprogram wat daagliks van 04:30 tot 04:59, Maandae tot Donderdae, uitgesaai word op RSG en tussen 40 000 en 80 000 luisteraars daagliks bereik. Die program bevat tegniese inhoud oor alle landbouvertakkings en landboumarkte, en word aangebied deur Lise Roberts en geredigeer deur Hennie Maas.