Koringboere moet vanjaar hul landerye dophou vir die Russiese koringluis. So het dr Vicky Tolmay van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Kleingraaninstituut, in ’n onlangse onderhoud op RSG Landbou gesê.

Volgens dr Tolmay beleef ons hierdie jaar ’n kenmerkende lente-droogteseisoen. “In die verlede het die Russiese koringluis in hierdie tipe seisoen sy kop uitgesteek. Dít het ons weer vanjaar ervaar. Die droogte is ’n probleem in die sin dat wanneer die koringplante swaarkry, die plante onder stres verkeer en dan ’n beter gasheer vir die luise is. ’n Mens kan dit sien wanneer die koring bo groen is, of selfs ’n effense blouerige kleur, en die onderste blare begin vergeel.”

Die LNR Kleingraaninstituut vra dat produsente in veral die Vrystaat en Oos-Vrystaat hul koringlande moet nagaan. Volgens dr Tolmay is die omgewingstoestande op die oomblik uiters gunstig vir Russiese koringluise.

“Die LNR het opgemerk dat daar vanjaar heelwat koring in die Vrystaat geplant is. Dit sluit droëland en besproeiing (vol of aanvullend) in. Ons sien ook dat daar reeds redelike besmetting in die omgewing is. Die Oos-Vrystaat is spesifiek ’n omgewing waar die Russiese koringluis-biotipes ontstaan.”

Biotipes van die Russiese koringluis

“Twee jaar gelede het die LNR ’n nuwe biotipe ontdek wat in staat is om al die weerstandkultivars te oorbrug,” sê dr Tolmay. “Dus is dit baie belangrik dat boere na hul koring kyk. Hulle moet gereeld deur hul somerkoring loop om te soek vir tekens van dié koringluis.”

Sy sê dat enige koring wat ná die einde van Julie geplant word, ’n groter risiko vir die koringluis dra. Dit is omdat die jong plante nog in Oktober en November sappig is, en die koringluise die jong, sagte plante verkies.

“Die ander ding wat belangrik is, is die verspreiding van die Russiese koringluis. As ’n mens koring plant terwyl daar steeds ouer koring staan, dan skuif die koringluise na die jong plante. Hoe meer koring geplant word, hoe groter kan die probleem raak. Hoe verder die landerye egter uit mekaar is, hoe minder versprei die luise.”

Dr Tolmay het koringboere aangeraai om die LNR se handleiding vir koringproduksie in die somerreënvalgebied af te laai, vir meer inligting oor die Russiese koringluis asook die kultivars wat weerstand teen dié pes bied.

Klik hier om die handleiding af te laai.

Vir meer inligting oor weerstandkultivars, kontak dr Tolmay by 058 073 3433. Vir inligting oor biotipes, kontak dr Astrid Jankielsohn kan by 058 307 3434.

Luister hier na dr Tolmay se radio-onderhoud vir praktiese raad oor wat produsente kan doen as hulle koringluise op hul plase teëkom. – Ursula Human, AgriOrbit