Die SA Braford-telersgenootskap is op 30 Mei 1997 as ’n ontwikkelende ras gestig. Dit is in ooreenstemming met ’n wêreldwye tendens waarin die voortreflike eienskappe van twee of meer rasse saamgevoeg word om ’n nuwe of sintetiese ras, wat meer doeltreffend is as enige van die ouers, te skep.

Die Hereford, wat as basis gebruik is in die daarstel van die SA Braford, is getallegewys een van die grootste en belangrikste vleisbeesrasse in die wêreld, beide onder ekstensiewe en voerkraaltoestande. Eienskappe soos vrugbaarheid en vleisgehalte is wêreldwyd sinoniem met die ras. Voeg hierby die uitstaande moedereienskappe van die Brahman, en die resultaat is ’n dier met uitsonderlike eienskappe. 

Wêreldwye groei

Die Braford-ras se gewildheid groei wêreldwyd – veral in die groot vleisproduserende streke soos Argentinië, Brasilië, Paraguay en Texas. Die vraag is waarom?

Braford is en was nog nooit ’n moderas soos wat ons van tyd tot tyd in Suid-Afrika ervaar nie. Die Suid-Amerikaners se antwoord is eenvoudig dat dit “die keuse moederkoei” is.Hieruit kan afgelei word dat die Braford wyd aangepas is in klimaatstoestande wat wissel van semi-woestyn tot subtropies.

Kenmerke wat saak maak

Die SA Braford is veral vir sy medium raam en vroegryp-eienskappe bekend. Anders gestel, verse bereik puberteit op ‘n vroeër ouderdom, terwyl osse uitstekend in die voerkraal presteer. Die gemiddelde geboortemassa, volgens Breedplan SA, is 33,1kg (afgelope 28 jaar). Hieruit kan afgelei word dat die kanse op kalfprobleme by Brafordkoeie gering is en dat hulle nie alleen bekend is vir hul goeie moedereienskappe nie, maar ook vir hul kalwingsgemak.

Brafordkoeie is nie alleen vir hul vrugbaarheid bekend nie (kalf jaarliks) maar ook vir hul doeltreffendheid. Dit word algemeen aanvaar dat speenmassa grootliks (70%) deur die melkproduksie van die koei bepaal word. Van kardinale belang egter is dat die koei-tot-kalfverhouding by speen vir mediumraam koeie (wat gemiddeld 450-530kg by speen weeg), so hoog moontlik moet wees. Ofskoon die langtermyn ras gemiddeld 43,2% is, isdaartalle telers wat reeds vir etlike jare ’n verhouding van 47% en hoër handhaaf, ’n syfer wat onteenseglik op verhoogde koeidoeltreffendheid dui.

Braford in die voerkraal

Onlangse afrondingsdata by een van die vooraanstaande voerkrale het getoon dat die gemiddelde daaglikse toename (GDT) van Braford-ossies oor ’n tydperk van ongeveer vyf maande en langer (wat aanpassings- en afrondingsfases insluit) gemiddeld 1,6kg/dag was. Slegs minder aggressiewe groeistimulante (geen Zilpaterol) is gedurende die afrondingsfase gebruik.

Die groei van die ossies vergelyk uitstekend met ander rasse van soortgelyke raam en tipe. Die gemiddelde karkasmassa (koud) was 264,7kg (klas A, vetkodes 2 en 3) en voldoen aan die hedendaagse vereistes van die vleisbedryf en -verbruiker. 

Vleismonsters is volgens die riglyne van die Landbounavorsingsraad (LNR) in Irene van 20 karkasse geneem, vakuumverpak en vir 21 dae verouder, waarna dit gevries is totdat die monsters ontleed is. Laboratoriumtoetse om vleissagtheid te meet het getoon dat die verouderde lendesnitte besonder sag was en dat dit val binne die maatstafkategorie waarvoor die meeste verbruikers, volgens opnames, bereid sou wees om ’n premie te betaal. Die gemiddelde marmeringsvlak van 2,7% spiervet is gelykstaande aan gemiddelde syfers wat in voerkraaldiere in Suid-Afrika verwag word.

Nie alleen voldoen die SA Braford aan al die behoeftes van vandag se vleisbeesprodusent nie. Die ras bied ook topgehalte diere teen billike pryse en binne bereik van kommersiële boere.

Vir meer inligting, skakel 051 4460580/2, epos info@braford.co.za of besoek http://braford.co.za.