Die grootste buitelug kulinêre gebeurtenis in Afrika, die 2020 Suid-Afrikaanse Kaasfees, is afgestel weens die nasionale verbod op byeenkomste van meer as 100 mense. Dié gewilde fees sou vanjaar vir die 19de keer aangebied word vanaf 25 tot 27 April op Sandringham buite Stellenbosch.

Die Raad van Agri-Expo, wat die SA Kaasfees organiseer, het die afgelope week met provinsiale regering en ander rolspelers vergader in die lig van toenemende kommer oor die COVID-19-pandemie.

Betaalde kaartjies sal vergoed word

Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, het die fees se vennote, uitstallers en ondersteuners bedank vir hulle begrip en geduld. “Die SA Kaasfees bied jaarliks ’n platform aan kaasmakers en entrepreneurs van regoor die land om hul produkte aan soveel as 30 000 feesgangers bekend te stel. Die afstel van die SA Kaasfees sal ’n besliste ekonomiese impak hê.”

Alle betaalde kaartjies sal deur Computicket vergoed word, met kaartjiehouers wat direk deur Computicket gekontak sal word. Die 20ste SA Kaasfees sal van 24 tot 26 April 2021 op Sandringham buite Stellenbosch plaasvind. Vir meer inligting, besoek die fees se webtuiste by www.cheesefestival.co.za of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za. – Persverklaring, Agri-Expo