SA Kaasfees bekroon as Fees van die Jaar op Wêreldtoerismedag

869
Van links is Henry Prins, KWDM se munisipale bestuurder, dr Helena von Schlicht, KWDM se uitvoerende burgemeester, Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, Isabeau Botha, korporatiewe kommunikasiebestuurder van Agri-Expo, Kobus du Plessis, gemoeid met plaaslike ekonomiese ontwikkeling by KWDM, en Rhian van Wyk, adjunk-direkteur van plaaslike ekonomiese ontwikkeling by KWDM.

Die Suid-Afrikaanse Kaasfees, wat in April vanjaar vir die 17de keer aangebied is, is op Wêreldtoerismedag vereer as Fees van die Jaar. Wêreldtoerismedag word jaarliks op 27 September herdenk en skep volgens die Verenigde Nasies se Wêreldtoerisme-organisasie (UNWTO) bewusmaking oor toerisme se werklike en potensiële bydrae tot volhoubare ontwikkeling.

Read it in English. 

Die Fees van die Jaar-toekenning is op ’n galadinee by Simonsvlei buite die Paarl deur die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit se uitvoerende burgemeester, dr Helena von Schlicht, gemaak as deel van die sesde jaarlikse Burgemeester-toerismetoekennings. Dié toekennings vier die prestasie van rolspelers in die Kaapse Wynland-toerismebedryf.

Sy het die SA Kaasfees uitgelig as ’n wêreldbekende hoogtepunt vir besoekers aan die Kaapse Wynland. Volgens ’n verklaring benadruk die toekennings die waarde wat toerisme tot die plaaslike ekonomie sowel as tot positiewe internasionale verhoudinge bydra. Vir elke agt toeriste wat in die distrik oornag, word een nuwe permanente werkgeleentheid geskep.

Een van Afrika se grootstes

Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, sê die SA Kaasfees het sedert 2002 gegroei tot een van die grootste kulinêre buitelugbyeenkomste in Afrika. Dié wêreldklasgeleentheid lok tot 30 000 besoekers oor drie dae van wie meer as 40% van buite die Wes-Kaap kom. Die fees word beskou as ’n uitstekende platform vir besighede om nuwe produkte bekend te stel en hul handelsmerke onder verbruikers en die handel se aandag te bring, insluitend vele kleinkaasmakers wat reeds groot sukses behaal het danksy hul deelname aan die fees.

“Dit is vir Agri-Expo ’n besonderse voorreg om deur die streek se owerhede vereer te word vir die SA Kaasfees se bydrae tot toerisme,” sê Ehlers. “Die fees is ’n unieke kulinêre ervaring van kaas en sy vele pasmaats, met meer as 160 uitstallers wat hul produkte ten toon stel en bewusmaking skep oor die veelsydigheid van die verskeidenheid van Suid-Afrika se kaas- en verwante produkte.

“Dit is egter soveel meer as net ’n fees – dit omvat vernuwing, werkskepping, entrepreneurskap, produkontwikkeling en natuurlik verbruikerbewusmaking. Dit is veral verblydend dat ons deur middel van die fees ’n direkte ekonomiese impak maak deur werkskepping in die onmiddelike omgewing en ook kleinboere en ander entrepreneurs se produkbemarking ’n hupstoot kan gee.”

Ander suksesse sluit in mediablootstelling van meer as R40 miljoen wat jaarliks genereer word, die feit dat dit ’n waterwysfees is met geen impak op die waterrooster nie, en suksesvolle langtermynvennootskappe vestig tussen rolspelers in die landbou- en toerismebedryf, en die regering en private sektor.

Uitdaging van vernuwing

“Toerisme is almal se besigheid, ook landbou s’n, veral in die wynlande waar plase die ruggraat van wyntoerisme vorm – vir die skep van besoekerservarings én werkgeleenthede,” sê Ehlers. “Landbou bied vele geleenthede om toerisme in die Wes-Kaap te bemark. Verbruikers is vandag meer avontuurlustig en daarom moet ons hulle aan die volle waardeketting blootstel – van die dier in die veld tot die kaas op hul bord. Die uitdaging van vernuwing beteken ons moet saamwerk om voortdurend eerlike en onvergeetlike ervarings te bied wat besoekers se verwagtinge oortref.”

Ehlers sê hulle sien daarna uit om hierdie vennootskappe verder uit te bou met die oog op die Statebond se 30ste Internasionale Landboukonferensie wat in 2022 deur Agri-Expo in die Kaap aangebied sal word.

Die SA Kaasfees is reeds verskeie keer bekroon, waaronder as die beste Verbruikersuitstalling in Afrika (groter as 12 000m²) deur AAXO (Association for African Exhibition Organisers). Die 18de SA Kaasfees vind van Vrydag 26 tot Sondag 28 April 2019 op Sandringham buite Stellenbosch plaas. Kaartjies is van 1 Desember af by Computicket beskikbaar. Vir meer inligting, besoek www.sacheesefestival.co.za. – Persverklaring