Vryburg, ook soms genoem die Texas van Suid-Afrika, speel vanjaar gasheer vir die 20ste Old Mutual Insure Agri Nasionale Jeugskoukampioenskappe. Hierdie kampioenskappe vind oor vier dae, van 22 tot 25 September 2019, by die Vryburg-skougronde plaas.

Grootste jeugskou nog

Meer as 450 deelnemers van al nege provinsies word by vanjaar se kampioenskappe verwag. Dit is die meeste deelnemers in die geskiedenis van die kompetisie!

Volgens Breyton Milford, voorsitter van die Nasionale Landboujeugvereniging, is Vryburg se fasiliteite ideaal om ‘n toernooi van hierdie statuur aan te bied. “Noord-Wes Jeugskou het die afgelope paar jaar geweldig gegroei en om hierdie toernooi in Vryburg aan te bied, skep ‘n geleentheid om jeugskou selfs verder in hierdie omgewing te bemark. Dit bly egter ‘n unieke geleentheid waar die land se beste skoumanne en -dames wat reeds provinsiale kleure verwerf het, in aksie sal wees.”

Deelnemers ding vanjaar in 15 kategorieë mee: Vleisbeeste, suiwelbeeste, wolskape, vleisskape, vleisbokke, sybokke, melkbokke, wedvlugduiwe, sierduiwe, varke, kulinêre kuns, suiwelbereiding, konyne, pluimvee en perde.

‘n Belegging in die landboutoekoms

Old Mutual Insure Agri is reeds sedert 2013 die naamborg van hierdie unieke geleentheid en volgens Liza de Beer, waarnemende hoof van landbou, is die jeugskou ‘n belangrike platform en ‘n toonbeeld van jeug wat passievol is oor landbou.

“Old Mutual Insure Agri beskou jeugskou as ‘n belegging in die toekoms van landbou. Jongmense moet met die opwinding van die landbou geprikkel word en is dit daarom belangrik dat die jeug op ‘n vroeë ouderdom aan landbou blootgestel word.”

Een van die beoordelaars vanjaar, Elana Pietersen, het saam met haar broer Donovan, as oud-jeugskoudeelnemers ‘n paar jaar gelede, hul eie Brahman-stoet begin. Hul stoetnaam is Terenus Brahmane en hul leuse is: “Ons bevorder landbou deur jeugskou”.

Volgens Milford is dit ‘n sprekende voorbeeld van wat jeugskou beteken. “Ons glo dat jeugskoudeelnemers ‘n reusebydrae gaan lewer tot die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou. Inteendeel, ons sien dit alreeds.”

Besoekers is welkom om hierdie geleentheid gratis by te woon. – Persverklaring, Nasionale Landboujeugvereniging

Vir meer inligting kontak gerus vir Breyton Milford by Breyton@agriexpo.co.za / 0827085939 of Maxie Pieterse by mepietersen@lantic.net / 0722708583 of die webwerf by www.nays.co.za.