SA Stamboek het ALFA 2018 as platform gebruik vir die aanbied van verskeie belangrike geleenthede. Die SA Stamboek Elite Teeltsimposium, Noordstreek se Elite Suiweltoekennings, die Noordstreek, Noordwes en Vrystaat se Elite Vleisbeestoekennings, en die eerste Elite Kleinveetoekennings is tydens die ekspo aangebied. Dié geleenthede was vir SA Stamboek ’n uitstekende kans om nie net kennis te deel nie, maar ook om erkenning te gee aan uitblinkers wat betref aantekening-, bestuur- en telingspraktyke.

Dit is die eerste keer wat die Elite Kleinveetoekennings aangebied is. Volgens dr Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder van SA Stamboek, was dit belangrik dat die Elite-toekennings ook na kleinvee uitgebrei word. “Hoewel SA Stamboek die afgelope aantal jare erkenning gegee het aan kleinveetelers deur die Top 10, is geen toekennings in die brons, silwer en goue kategorieë vir kleinveetelers gemaak nie. Dit is nou reggestel met die bekendstelling van die Elite Kleinveetoekennings,” sê hy.

Die SA Stamboek Elite Teeltsimposium het ’n platform geskep waartydens die nuutste inligting uit die telingsbedryf oorgedra kan word. Buiten verskeie plaaslike telers wat as sprekers opgetree het, het twee internasionale sprekers produsente ook toegespreek. Professor Donagh Berry van Ierland het oor genomika gepraat en veral gefokus op hoe genomika ook op ander terreine gebruik kan word en nie net vir genomiese seleksie nie. Dr André Eggen van Frankryk het beklemtoon dat nog baie nuwe tegnologie en ontwikkelings in genomika op pad is.

Brons, silwer, goue en dubbel goue toekennings is tydens die verskeie toekenningsgeleenthede oorhandig. Die Elite dubbel goue kuddes, oftewel die Top 10, kom in aanmerking om as die Elite platinumkudde van die streek aangewys te word. Dié kuddes kan dan meeding vir die titel van Elite nasionale kudde van die jaar in die onderskeie kategorieë. Die platinum toekennings vind tydens SA Stamboek se Elite gala-toekenningsgeleentheid op 29 April 2019 in Bloemfontein plaas. – Marike Brits, Veeplaas