SA Suiwelkampioenskappe lok 975 inskrywings

269
Van links na regs is die twee nuwe beoordelaars, Oelof Vorster (hoofsjef van Le chêne restaurant, Franschhoek) en Slindile Khoza (leerling-suiwelprodukontwikkelaar), saam met Johan Ehlers (hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo), glanssjef Marlene van der Westhuizen en hoofbeoordelaar Alan Fourie tydens die 2020 SA Suiwelkampioenskappe.

‘n Rekordgetal van 975 suiwelprodukte ding vanjaar mee in die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, die grootste suiwelkompetisie in Afrika, wat op Donderdag 27 Februarie 2020 by GrandWest in Kaapstad plaasvind.

“Dit is opwindend om in die 187ste bestaansjaar van die kampioenskappe ‘n nuwe rekordgetal inskrywings aan te teken,” sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, die organiseerder van die kampioenskappe sedert 1834. “Dié groot getal inskrywings deur 74 vervaardigers in meer as 100 verskillende klasse is veral goeie nuus vir die suiwelbedryf wat steeds deur uitdagings soos die voortslepende droogte belemmer word.”

“Die Suid-Afrikaanse kampioenskappe skep ‘n jaarlikse geleentheid vir landbouverwerkers om nasionaal mee te ding op ‘n baie hoë vlak van gehalte en vernuwing,” voeg Ehlers by. “Dit is bemoedigend dat daar vanjaar elf nuwe vervaardigers toegetree het én dat vervaardigers innoverende produkte inskryf, wat dui op groei in produkontwikkeling.”

Dié maatstaf van uitnemendheid

‘n Nuwe hoofbeoordelaar, die bekende suiwel- en kaaskenner Alan Fourie, staan vanjaar aan die hoof van die span van 80 beoordelaars. Volgens Fourie is die uitsluitlike doel van die kampioenskappe om uitnemendheid in die suiwelbedryf te erken en te bevorder.

“Die SA Suiwelkampioenskappe is een van die enigste kompetisies ter wêreld wat vyf beoordelaars per kategorie gebruik en het die maatstaf geword waarvolgens groot én klein vervaardigers hulself teen mekaar meet,” sê Fourie. “Die kampioenskappe bestaan uit meer as 100 klasse vir kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander produkte. Die wenners in die onderskeie klasse word as SA Kampioenebekroon. Produkte van besonderse hoë kwaliteit ontvang die Qualité-merk van gehalte, wat deur die bedryf erken word as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika. Ná die eerste rondte beoordeling wys ‘n paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan.”

Ondersteun opleiding in suiwelbedryf

Die kampioenskappe maak voorsiening vir kontinuïteit en terugploeg van kundigheid in die bedryf deur jonger beoordelaars in te sluit. Verskeie nuwe beoordelaars neem vanjaar deel, asook skadu-beoordelaars. Sommige van die kampioenskappe se beoordelaars het onlangs die eerste Sensoriese Suiwelproduk-evalueringskursus van die Melkprodusente-organisasie (MPO) bygewoon wat as hulpmiddel vir suiwelbeoordelaars dien. Die span sluit ook voormalige deelnemers aan die Boergondië-kaasmakersuitruilprogram in, ‘n bilaterale ooreenkoms tussen die Wes-Kaapse Regering en die Streeksregering van Boergondië, wat deur Agri-Expo gekoördineer is.

Die 2020 SA Suiwelkampioenskappe word moontlik gemaak deur die vennote Agri-Expo, Synercore, Lake Foods, Condio, Orchem, Guth SA, die Melkprodusente-organisasie (MPO) en The Dairy Mail. Die wenners word by die Agri-Expo Qualité-toekenningsdinee op Donderdag 26 Maart 2020 in die Stellenbosch Stadsaal aangekondig. – Persverklaring, Agri-Expo

Belangstellendes kan www.cheesesa.co.za en www.agriexpo.co.za besoek, of Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za kontak.