Lactalis SA se Président Extra Mature Cheddar is tydens vanjaar se Agri-Expo Qualité-toekennings op Donderdag 26 Maart 2020, as die Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar gekroon.

Lactalis SA se Président Extra Mature Cheddar is tydens vanjaar se Agri-Expo Qualité-toekennings op Donderdag 26 Maart 2020, as die Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar gekroon. Dié jaarlikse toekenningsgeleentheid van die SA Suiwelkampioenskappe, die grootste suiwelkompetisie in Afrika, is vanjaar in sy 187ste bestaansjaar vir die eerste keer virtueel aangebied te midde van die COVID-19-pandemie.

Die beoordeling van die kompetisie het reeds op 27 Februarie in Kaapstad plaasgevind vóór die eerste koronavirus-geval in Suid-Afrika aangeteken is. Volgens Johan Ehlers, hoof-uitvoerende beampte van Agri-Expo en organiseerder van die SA Suiwelkampioenskappe, moes hulle egter daarna innoverende planne beraam oor hoe vanjaar se toekenningsgeleentheid aangebied sou word.

Suiwel gedy te midde van uitdagings

“Die afstel van die glansgeleentheid plaas gelukkig geen demper op die rekordgetal van 975 produkte van 74 vervaardigers wat vanjaar in meer as 100 verskillende klasse meegeding het nie. Die toename in inskrywings asook die toetrede van elf nuwe vervaardigers, is goeie nuus vir die suiwelbedryf wat deur uitdagings soos die voortslepende droogte en nou ook die COVID-19-pandemie belemmer word,” het Ehlers gesê.

Die room van die room

Uit die magdom inskrywings is slegs 23 produkte met die Qualité-merk van gehalte vereer, terwyl Lactalis SA se Président Extra Mature Cheddar as die kampioen aangewys is.

“Dit is die derde keer in vyf jaar dat ons die Produk van die Jaar-toekenning vir een van ons kase verower,” het ’n trotse Marek Warzywoda, hoof-uitvoerende beampte van Lactalis SA (LSA), gesê.

“Ek is so trots op die LSA-span. Dit is ’n ongelooflike getuigskrif van hoe hoog die gehalte van ons produkte is en hoe toegewyd ons spanne is. Ons bedank Agri-Expo vir nog ’n fantastiese en goed georganiseerde kompetisie en vir die handhawing van sulke hoë standaarde vir die plaaslike suiwelbedryf.” 

Die maak van ’n wenkaas

“Om ’n uitsonderlike cheddar te vervaardig wat vir langer as tien maande verouder kan word, is ’n uitdaging op sigself,” het hoofbeoordelaar en suiwelkenner Alan Fourie gesê. “Die Président Extra Mature Cheddar is vol afgerond met ’n soet, neutagtige profiel wat in die mond smelt. Voorwaar ’n besonderse produk wat die toekenning as Produk van die Jaar verdien.”

Agri-Expo bedank graag die vennote van die Qualité-toekennings vir hul toewyding tot die ontwikkeling van die SA suiwelbedryf: Synercore, Lake Foods, Woolworths, MANE, Guth SA, Orchem, Condio, die Melkprodusente-organisasie (MPO), The Dairy Mail en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Suiweltegnologie. – Persverklaring, Agri-Expo