Die 18 nasionale wenners van die 2018 Novare SA Terroir Wyntoekennings sal vertoon word by proeë wat volgende week in Mauritius aangebied word – ʼn geleentheid wat volgens die organiseerders  ʼn jaarlikse instelling sal word.

Hierdie heel eerste proe van top Suid-Afrikaanse wyne op die eiland, is die breinkind van die stigter van Novare Holdings, Derrick Roper. Novare, in samewerking met Mauritius se Adansonia Holdings, borg terselfdertyd die agste jaarlikse Cycle Tour Ile Maurice, ʼn bergfietsrit  – nie ʼn wedren nie – oor vier dae om die skilderagtige Mauritius-kuslyn.

Volgens Roper is hierdie die ideale geleentheid om die bekroonde wyne wat sy maatskappy in Suid-Afrika bevorder, ook hier te vertoon. “Dit is ʼn uitbreiding van ons siening dat Suid-Afrika fenomenaal goeie wyne maak, deur deelnemers aan die fietstoer en plaaslike kos- en drank-bestuurders, sommeliers en restaurateurs die geleentheid te gee om hulle te proe.”

Uitbreiding van ‘n groeiende toerismemark

Boela Gerber van Groot Constantia Landgoed, wat twee trofeë by die 2018 Novare SA Terroir Wyntoekennings ingepalm het, sal die 18 wenwyne in samewerking met Christo Pienaar van Nuy Wynkelder aanbied. Pienaar is voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA),  wat die toekennings aanbied.

Pienaar sê: “Ons is opgewonde om hierdie topgehalte wyne uit spesifieke terroirs van ons wynland met so ʼn belangrike samekoms van gaste te deel.” Hy glo dat hierdie die begin kan wees van ʼn daadwerklike poging om meer gehaltewyn aan die steeds groeiende toeristemark in Mauritius te verkoop.

Die wynproe word “Meet and Greet” genoem en vind op Saterdag 8 Junie by die Canonnier Beachcomber Golf Resort en Spa Hotel plaas.

Die vierdag-lange fietsrit van 270 km regom Mauritius, word op Vrydag 7 Junie tot Maandag 10 Junie gehou.

Die volgende wyne sal geproe word:

WynNasionale Wenner
Alto Cabernet Sauvignon 2014Top Cabernet Sauvignon
Anura Reserve Malbec 2016Top Malbec
Babylonstoren Viognier 2017Top Viognier
Bon Courage Noble Late Harvest 2016Top Noble Late Harvest
D’Aria The Following Sauvignon Blanc 2016Top Sauvignon Blanc
De Wetshof Nature in Concert Pinot Noir 2017Top Pinot Noir
Flagstone Writer’s Block Pinotage 2016Top Pinotage
Ghost Corner Bowline 2016Top White Blend
Glen Carlou Chardonnay 2017Top Chardonnay
Groot Constantia Grand Constance 2015Top Natural Sweet
Groot Constantia Cape Ruby 2016Top Port style
Jordan Black Magic Merlot 2015Top Merlot
Lynx Grenache 2017Top Grenache
Neethlingshof Gewürztraminer 2018Top Gewürztraminer
Nuy Red Muscadel 2010Top Muscadel
Rietvallei JMB Cabernet Franc 2015Top Cabernet Franc
Vrede en Lust Early Mist Riesling 2017Top Riesling
Wildekrans Shiraz Barrel Select Reserve 2014Top Shiraz

Inskrywings vir die 2019 Terroir-kompetisie sluit op 11 Junie en die afleweringsdatums vir monsters vir beoordeling is 13-14 Junie. Die beoordeling vind op 2-5 Julie plaas en die toekenningsfunksie word op 1 Augustus by Anura Landgoed deur Novare aangebied. – Persverklaring

Inskrywingsvorms is aanlyn beskikbaar by www.terroirwineawards.co.za