Wyndruifprodusente en kelders in Suid-Afrika is positief oor die gehalte van wyne uit die 2018-oes, ondanks uitdagende toestande wat tot een van die kleinste oeste in meer as ʼn dekade gelei het.

Read it in English. 

Volgens die wynbedryfliggaam Vinpro is die 2018-oes, wat op 1 220 920 ton sowat 15% kleiner as in 2017 is, aanvanklik selfs laer geskat.

Francois Viljoen

“Die 2018-seisoen was werklik uitdagend vanweë een van die ergste droogtes in 100 jaar, tesame met waterbeperkings en rypskade in sekere gebiede,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens.

Alle streke behalwe die Breedekloof het ʼn kleiner wyndruifoes aangeteken, en die Olifantsrivierstreek is die hardste getref weens ʼn watertoedeling van slegs 20% van die streek se normale toelaag uit die Clanwilliamdam. Bykomend tot die watertekorte het sommige wingerde in die Breedekloof-, Worcester- en Robertsonstreke in September en Oktober 2017 rypskade ondervind. Die Noord-Kaapstreek, wat nie watertekorte beleef het nie, se produksie was ook laer by wingerde wat swak herstel het van rypskade vroeër in die seisoen.

Die droë weer regdeur die seisoen het die voordeel ingehou dat wingerde gesond was, en die meeste streke het min of geen plae en siektes aangeteken nie.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is reeds baie divers weens wisseling in klimaat en terroir tussen die onderskeie streke. Dit was egter hierdie jaar selfs moeiliker om te veralgemeen, aangesien die toestande wesenlik verskil van een streek en selfs van een plaas tot die volgende, na gelang van toegang tot water, die prioritisering van ander gewasse op die plaas en hoe die wingerd die droogte hanteer het,” sê Francois.

“Die aantal druiwetrosse het aanvanklik belofte ingehou, maar die korrels was heelwat kleiner as gewoonlik, wat die totale tonnemaat beïnvloed het. Kleiner korrels het gewoonlik goeie kleur en geurintensiteit en hierdie, tesame met koeler weer in parstyd, het druk op wingerde verlig en gehalte bevorder.”

Siobhan Thompson

“Ons is baie positief oor die gehalte van die druiwe uit die 2018-oes omdat dit een van die belangrikste aspekte is waarop ons as ʼn bedryf fokus,” sê Siobhan Thompson, bestuurshoof van Wines of South Africa (Wosa).

“Die standaard van die wyne wat ons plaaslik en oorsee verkoop móét met die res van die wêreld se wyne meeding. Dit toon ware karakter, nie net van die gehalte van ons terroir nie, maar ook van ons wynmakers wat by uitdagende toestande van hierdie aard aanpas en dit oorkom om volhoubaar te bly.”

“Ek haal my hoed af vir Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente en wynmakers wat hul praktyke in die wingerd en kelder aangepas het om die effek van die watertekorte te versag. Ons hoop van harte die 2018-winter breek die droogte en die wingerde herstel genoeg in die aanloop tot die 2019-wyndruifoes,” sê Francois.

Suid-Afrika is die agtste grootste wyndruifprodusent ter wêreld en produseer nagenoeg 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en verskaf werk aan nagenoeg 290 000 mense.

Totale oesgrootte

Die 2018-wyndruifoes word op 1 220 920 ton beraam, volgens Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting- en Stelsels (Sawis) aan die einde van April 2018. Dit is 15% laer as in 2017.

Die 2018-wynoes – sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit – sal na raming 948,3 miljoen liter beloop, bereken teen ʼn gemiddelde verhaling van 777 liter per ton wyndruiwe.

2017/18-groeiseisoen:

In die na-oesperiode (April en Mei 2017) het heelwat streke se wingerde hul blare langer as gewoonlik gehou, wat voordelig was vir die opbou van reserwes vir die komende seisoen.

Winter het in die meeste streke laat aangebreek, maar was koud genoeg om dormansie te breek. Dagtemperature was kenmerkend warmer en nagtemperature kouer as normaal weens die droë toestande. Alle streke het heelwat laer reënval ontvang, met die Olifantsrivier, Breedekloof, Paarl en Swartland wat minder as die helfte van hul langtermyn gemiddelde reënval aangeteken het, en die Klein Karoo slegs 20%.

Wingerde het later begin bot weens koeler weer wat tot Augustus en September gestrek het. Onegalige blom en set was algemeen weens winderige toestande, koue periodes en reënval in die meeste areas, maar in Robertson was die set goed weens warm, droë weer en voldoende besproeiing gedurende blom.

Sommige wyndruifprodusente in die Breedekloof, Worcester, Robertson en Noord-Kaap het in September en Oktober ryp ondervind, wat tot oesverliese gelei het.

Ná aanvanklike stadige lootgroei het wingerde vinniger gegroei namate temperature na die einde van November begin styg het. Hoewel Desember en Januarie warm was, met temperature naby 35°C, het die streke geen van die gewone hittegolwe beleef nie.

Die res van die groeiseisoen en oes was merkbaar koeler as normaal. Teen die einde van Februarie het die nagte koeler begin raak, wat voordelig was vir kleur- en geurvorming in (veral rooi) kultivars wat later in die seisoen ryp word.

Parstyd het in die meeste streke sewe tot 14 dae later as gewoonlik afgeskop en sommige wyndruifprodusente was steeds teen die einde van April nog besig om te pars. Die meeste kultivars is in hul gewone volgorde gepars, wat beteken het dat kelderspasie nie onder druk was nie.

Weens die droë weer was wingerde gesond met beperkte voorkoms van plae, siektes of vrot.

Wynpotensiaal:

“Verbruikers kan uitsien na ʼn paar baie goeie wyne uit die 2018-oes,” sê Francois.

Wynmakers is in hierdie stadium gelukkig met die algemene wyngehalte, ondanks die uitdagende toestande vroeër in die seisoen en beperkte waterbronne.

Die droë, warm weer het gesonde druiwe en klein korrels met goeie intensiteit tot gevolg gehad. Groter wisseling tussen nag- en dagtemperature in die rypwordperiode het kleur- en geurvorming ʼn verdere hupstoot gegee – ʼn teken van uitsonderlike gehalte wyne.

Oorsig van die streke:

Breedekloof: Baie gesonde toestande en die feit dat nuwe Colombar- en Pinotage-aanplantings begin dra het, het tot ʼn groter wyndruifoes bygedra.

Klein Karoo: Hoewel die oes kleiner was, sal die rooiwyne ʼn dieper kleur hê danksy kleiner korrels, en die witwyne het vars eienskappe.

Noord-Kaap: Chenin Blanc-produksie het ietwat verhoog, maar Colombar, die grootste bydraende kultivar in die streek, is die meeste deur rypskade in sekere areas beïnvloed.

Olifantsrivier: Die streek is die hardste deur watertekorte getref en ervaar die grootste oesafname.

Paarl: Die aantal wyndruiftrosse is deur heelwat kleiner korrels getroef, wat tot ʼn laer opbrengs gelei het, spesifiek in droëlandwingerde.

Robertson: ʼn Kleiner, maar baie belowende wyndruifoes ondanks rypskade in sekere areas.

Stellenbosch: Ondanks besproeiingsuitdagings en ʼn kleiner oes, verwag wyndruifprodusente en wynmakers wonderlike wyne.

Swartland: ʼn Onverwagse goeie jaar in wyngehalte, ondanks ʼn kleiner oes weens waterstremming in hierdie droëlandstreek.

Worcester: Een van die mees uitdagende seisoene nóg weens waterbeperkings en ryp, maar wyndruifprodusente en wynmakers was innoverend in die wingerd en kelder om goeie wyne te produseer. – Persverklaring

Besoek www.vinpro.co.za vir meer inligting.

Wynbedryf oorsig: 

Industry statistics 2018

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here