Saai, ’n organisasie wat na die belange van familieboere omsien, het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria sukses behaal met ’n dringende hofaansoek om die uitvoer van voëls na buitelandse markte toe te laat.

Lees dit in Engels.

“Hoewel vlak 4-regulasies die uitvoer van alle landbougoedere ingevolge artikel 22(1)(e) toelaat, versuim die betrokke owerhede egter om die nodige permitte en vereiste sertifikate uit te reik om voëlboere toe te laat om hul voëls uit te voer. Daarom het Saai hierdie aansoek ingedien,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Voëlboere kan nou hul bedrywighede ongehinderd voortsit

Saai het hierdie verklarende bevel suksesvol bekom namens Schalk van Wyk, wat in die Nigel-omgewing met papegaaie boer. “Ons hoop hierdie bevel baan die weg vir alle voëlboere en landbou-uitvoerders om hul bedrywighede ongehinderd voort te sit,” voeg Rossouw by.

Hierdie bevel is ook belangrik in die lig van die naderende vlak 3-regulasies, wat meer bedrywe en regeringsfunksies toelaat om te begin werk, aangesien die regering gewaarsku het dat sekere gebiede na vlak 4 kan terugskuif indien nodig. Die bevel sal hierdie boere dan teen arbitrêre riglyne, wat hul bedryfsvermoë belemmer, beskerm. – Persverklaring, Saai