In die lig van die onsekerheid wat regeringsregulasies met betrekking tot COVID-19 in die land veroorsaak, sal die Sakeliga KragDag 2020-ekspo uitgestel word tot die eerste naweek in Desember.

Sakeliga KragDag 2020, die grootste alternatiewe energie- en selfonderhoudendheidsekspo in die land, wat ook ’n landbou sub-ekspo in samewerking met die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) insluit, se datum word na 3 tot 5 Desember 2020 verskuif. Dit sal by die Diamantvallei-landgoed, 20km oos van Pretoria, plaasvind.

Sakeliga KragDag rus mense toe om immuun te raak teen ’n grendelstaat en ander samelewingsvirusse, én om hierdie leefstyl te geniet. Die ekspo het verlede jaar met sy 450 uitstallers, wat ’n wye spektrum van selfstandigheids- en doen-jou-eie-ding-oplossings ten toon gestel het, 21 400 ekspogangers getrek.

Baie van die ondernemings wat hier uitstal bied oplossings wat gesinne, boere en ondernemings toerus om staats- en rampbestand te word.

Selfstandige lewenstyl ’n noodsaak

Die gevolge van die nasionale inperking in antwoord op COVID-19 het dit duidelik gemaak hoe essensieel ’n selfstandige lewenstyl is en daarom is KragDag in vanjaar se omstandighede die één ekspo wat nie gemis kan word nie.

Uitstallings sal sonkrag, eie voedselproduksie, tuisonderwys en vaardigheidsontwikkeling, veiligheid, entrepreneurskap, tegnologiese hulpmiddels en vele meer insluit. Die positiewe ontvangs van die landbou sub-ekspo, wat verlede jaar vir die eerste keer aangebied is, het ook verwagtinge ver oortref.

’n Program om na uit te sien

Die KragDag organiseerders besef dat hierdie jaar ’n beproewende jaar vir meeste mense is en daarom word gepoog om vir besoekers met ’n verrykende ervaring te bederf op ’n wyse wat gesinsvriendelik en -bekostigbaar is. Bykomend tot die uiteenlopende verskeidenheid van selfstandigheidsuitstallings vind hierdie poging praktiese beslag in onder meer die volgende:

  • Besoekers wat vooraf registreer het, sal hierdie jaar steeds al drie dae van die ekspo gratis kan bywoon.
  • Bywoning van die ekspo is gratis vir alle kinders tot op die ouderdom van 18 jaar.
  • Met die wete dat mense uitgemergel gaan wees teen die einde van hierdie spanningsvolle jaar, sal baie van die vermaak vir jonk tot oud gratis wees. Dieselfde geld vir die bywoning van ’n verskeidenheid praatjies en demonstrasies tydens die ekspo.
  • Omdat baie mense vir verskeie redes nie Desember met vakansie sal kan gaan nie, word voorsiening gemaak vir ’n ontspannende wegbreek-natuurkampervaring in die KragDag boskampterrein. Sodoende kan die gesellige atmosfeer van die drie-dae ekspo, wat in elk geval te omvangryk is om in een dag te absorbeer, ten volle beleef word sonder ekstra moeite. Die Desember-klimaat sal bydra om hierdie ‘n heerlike ervaring te maak.

Vir meer besonderhede, besoek www.kragdag.co.za. Indien daar enige navrae is, kontak die KragDag-kantoor by 087 231 1644 of info@kragdag.co.za. – Persverklaring, Sakeliga KragDag Ekspo