Samewerking met SA Stamboek bring bruikbare data vir Boran-telers

621

Deur gebruik te maak van die nuutste telingstegnologie, bemagtig die Boran Telersgenootskap Suid-Afrikaanse vleisbeestelers om optimaal te produseer.

Deelname aan die Beef Genomics Program (BGP) het byna 500 Boranbeeste se genomiese profiele opgelewer. Dit verteenwoordig teeldiere van al die moontlike lyne en lande van oorsprong van die ras. Hierdie inligting, saam met die meer as 6 900 beskikbare genomiese profiele van nege vleisbeesrasse op die Logix aantekeningstelsel, stel Stamboek se navorsingspan in staat om die presiese genetiese afstande of verwantskappe tussen rasse sowel as die genetiese diversiteit binne elke ras te bepaal.

Hoewel die Boran Telersgenootskap verantwoordelik is vir die genetiese verbetering van die ras, besef hy ook sy verantwoordelikheid om ’n positiewe bydrae tot die winsgewendheid van kommersiële vleisbeesproduksie te lewer. Die ras dra nie net by tot die daarstel van moederlyn vroulike diere wat in Afrika-toestande ekonomies moet produseer nie, maar help met die kennis oor genetiese afstande en diversiteit om die beste besluite te maak vir komposiete (saamgestelde) moederlyndiere en om deur kruisteling ander rasse aan te vul (bekend as komplimentariteit) en om basterkrag ten volle te benut.

Een van die metodes wat tans opslae maak, is die sogenaamde “Principle Component Analysis” (PCA) wat rasse of rasgroepe saamgroepeer of wat die diversiteit tussen rasse duidelik uitwys. SA Stamboek stel deur navorsing en ontwikkeling die verskille (of enersheid) tot beskikking van die verskillende rasse. Die volgende driedimensionele voorstelling wys duidelik op die diversiteit tussen vleisbeesrasse.

Uit die driedimensionele voorstelling is dit baie duidelik dat elke ras se individuele diere nouer verwant is aan mekaar as aan diere van ander rasse. Die diversiteit (verskeidenheid) binne elke ras is ook duidelik en weerspieël families en lyne binne ’n ras.

Die werklike onderskeiding of uniekheid van ’n ras word dus uitgedruk in die genetiese afstand (verwantskap) wat diere in die ras met diere in ander rasse het. Die resultate wat uit die deelname in die Beef Genomics Program bekend geword het, en SA Stamboek se ontledings bevestig die uniekheid van die Boran as Afrika Bos Indicus.

Dit hou unieke geleenthede in vir beplande parings in kommersiële vleisbeeskuddes in ’n verskeidenheid omgewingstoestande en produksiestelsels. Tipies kan die genetiese afstand wat die ras onderskei van ander rasse tot hoër basterkrag (heterose) aanleiding gee.

Bo en behalwe hierdie voordeel, dui die genetiese afstand ook op ’n unieke genetiese samestelling wat as aanvulling dien in beplande parings as basis van moederlyndiere met unieke groei, afronding en karkas-eienskappe waarvan die nageslag direk bemarkbaar is.

Dit kan ook deel vorm van beplande terminale programme met ’n groter raam ras of groeikragtige bulle van mediumraamrasse. In beide gevalle sal basterkrag ook maksimaal benut word deur die genetiese afstande met sulke vaderlyne in ag te neem. – Persverklaring