Estimated reading time: 2 minutes

Gedurende die afgelope somermaande het die boere in Namibië een van die ergste sprinkaanplae in dekades beleef, maar dié probleem is nou iets van die verlede.

’n Verteenwoordiger van die Ministerie van Landbou, Water en Grondhervorming, Jona Musheko, sê daar was aanvanklik in die noorde en suidelike dele van Namibië groot sprinkaanplae wat baie gewasse en weiding opgevreet het. Buurlande soos Angola, Botswana, Zambië en selfs Zimbabwe het met die Namibiërs hande gevat om die probleem aan te pak. Hy sê die samewerking tussen hulle was besonders goed en die verskillende lande se departemente het saamgewerk om die plae te beveg.

Hy sê die boere in die noordelike dele van Namibië was baie bekommerd oor gewasse wat geplant is, maar dié gewasse is nou reeds geoes en die probleem is die hoof gebied. Daar was ook goeie rolspelers uit die publiek wat hulp aangebied het. In die suide van Namibië het die sprinkane groot skade aan weiding gerig, maar met die hulp van kommersiële veeboere kon hulle dié probleem ook hokslaan.

Volgens Musheko kan daar nog sporadiese gevalle in die Zambezi-streek (of die ou Capri-streek) voorkom, maar dit is nie kritieke swerms nie. Hy voeg ook by dat die sprinkane ernstige skade aan boere se verwagte inkomste aangerig het. Maar met behulp van buurlande en kommersiële boere is die finansiële verliese nie so erg as wat aanvanklik gereken is nie.

Hy verwag dat daar in die volgende jaar weer sprinkaanplae kan voorkom. Alles hang van die reën en natuurtoestande wat kan voorkom af. Volgens hom het die sprinkane baie eiers gelê en as die omstandighede gunstig is, kan hulle weer uitbroei. Hy het die versekering gegee dat hulle gerat is om weer so ’n plaag af te weer.

“Ons het uitstekende verhoudings met ons buurlande, kommersiële boere en ander rolspelers opgebou en ek glo ons sal volgende jaar gereed wees om vroegtydig op te tree as dit lyk of daar weer ’n sprinkaanplaag kan uitbreek. Ons het ook hierdie jaar heelwat toerusting bekom wat dit makliker sal maak om die probleem volgende keer te beheer,” het hy gesê. – Koos du Pisanie, AgriOrbit